Matthys Maree (Thys)

Persoonlike webwerf

Ek glo Here... Kom my ongeloof te hulp!

Die reaksie van die mens

'n Lewende geloof

"Maar  die Here God het na die mens geroep en vir hpm gevra: "Waar is jy?" En die mens antwoord: "Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip." (Gen 3:9,10)

In die vorige gedeelte is die uitverkiesende genade van God bespreek. Daar is uit die Woord getoon hoe God, deur sy Heilige Gees, die bewerker van die geloof is. Tog is daar ook op gewys dat die mens se verantwoordelikheid nie daarmee opgehef is nie. Net soos wat Adam op God se roepstem moes antwoord, net so is dit elke mens se verantwoordelikheid om vandag nog te antwoord.

Waaruit bestaan die antwoord van die mens?

"Na 'n verloop van tyd het Kain van die opbrengs van die land 'n offer aan die Here gebring. Abel het dit ook gedoen, van die eerstelinge uit sy kudde, van hulle vet. Die Here het vir Abel en sy offer aangeneem, maar nie vir Kain en sy offer nie. Kain het baie kwaad geword en hy was bedruk." (Gen 4:3 5)

As ons let na Kain en Abel se lewens is dit duidelik dat Kain nie geglo het nie. Van Abel word uitdruklik gesê dat hy van sy eerstelinge uit sy kudde geneem het en hul vet geoffer het. Die beste wat hy gehad het. Met Kain word daar geen soortgelyke aanduiding gegee nie. Inteendeel, in Hebreërs staan daar:

"Omdat Abel geglo het, het hy 'n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy 'n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog." (Hebr 11:4)

Hier was twee broers, die eerste kinders op aarde. Ons kan aanvaar dat beide van hulle baie na aan dieselfde opvoeding gehad het. Hul kennis van God was dieselfde, tog glo die een en die ander een glo nie. In die terme van die model wat tot nou bespreek is kan gesê word dat

beide geweet het dat God die Skepper van die hemel en die aarde was,

hul het beide die woorde van God eerstehands van hul ouers ontvang,

hul ouers was vir hul altwee lief, inteendeel, Eva was baie blyer oor Kain se geboorte as oor Abel s'n,

hul het beide geweet dat God nog toeganklik was deur sy beloftes aan Adam en Eva.

Al het Kain dieselfde kennis as Abel gehad, het hy steeds nie geglo nie. Hy het welliswaar die godsdienstige ritueel nagevolge en as hy vandag sou geleef het sou hy sekerlik ook in die kerk gewees het, maar hy het nie geglo nie. Die verskil tussen Abel en Kain was dat Abel die evangelie ten volle aangeneem het. Deur God se genade was daar 'n reaksie op God se roeping. Hy was bereid om sy beste te gee as offer. Geloof loop uit op dade. Jakobus sê:

"Wat help dit, my broers as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red? ... 'n liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood." (Jak 2:14,26)

Dit is duidelik dat die saligmakende geloof in Jesus Christus uitloop op 'n antwoord op God se appél. Dit is nie net 'n passiewe kennis neem van God en sy beloftes nie. In die bekende hoofstuk in Hebreërs word die volgende voorbeelde gegee:

"Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou." (Hebr 11:6)

"Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang." (Hebr 11:8)

"Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan." (Hebr 11:17)

Geloof is dus om op God se roeping te reageer in gehoorsaamheid. Hierdie gedagte van gehoorsaamheid het Jesus ook telke male beklemtoon:

"Nie elkeen wat vir My sê: "Here, Here", sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemel is." (Matt 7:21)

"As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg, want wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry." (Matt 16:24,25)

"Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra." (Joh 15:1,2)

Om hierdie antwoord aan God, die vrug wat ons moet dra, duideliker te omskryf, kan dieselfde beeld gebruik word wat gebruik is om te toon wat God vir die mens gegee het om te kan glo. Waar die mens voor hy tot geloof gekom het net aan die "ontvang kant" van God se genade gestaan het, is hy nou, na die tyd, ook skielik een wat meehelp om hierdie genade aan ander uit te deel. Daar sal vervolgens kortliks na die verskillende hoofpunte en die mens se reaksie, sy vrug daarop, gekyk word.

Die mens voor die Here God

Wanneer die mens in sy sonde skielik besef dat hy naak en met leë hande voor God staan, wanneer hy besef dat God reeds vir sy skuld deur sy Seun, Jesus Christus betaal het, kan die mens nie anders as om sy sonde voor sy Skepper te bely nie. Dawid het in sy sondebesef uitgeroep:

"Wees my genadig, o God, in u troue liefde,

wis my oortredinge uit in u groot barmhartigheid!

Was my skoon van my skuld, reinig my van my sonde!

Ja, my oortredinge ken ek en van my sonde bly ek bewus.

Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.

U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig.

"Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder

swanger geword het." (Ps 51:3 7)

Toe Petrus besef dat hy voor die Here staan na hulle op sy bevel soveel vis gevang het dat hulle dit beswaarlik kon hanteer het hy voor Jesus se knieë neergeval en gesê:

"Gaan weg van my af, Here, want ek is 'n sondige mens." (Luk 5:8)

Die volk Israel se reaksie by Horeb toe God sy wet vir hulle gegee was ook tekenend van die mens se sondigheid voor God.

"Die Here ons God het ons sy mag en sy grootheid laat sien, en ons het sy stem uit die vuur uit gehoor. Vandag het ons ondervind dat God met mense praat, en hulle bly lewe. Maar as ons weer die stem van ons God hoor, sal ons sterf, want hierdie groot vuur sal ons verteer." ... Toe die Here hoor wat julle vir my sê, het Hy vir my (Moses) gesê: "Ek het gehoor wat hierdie volk vir jou gesê het. Wat hulle gesê het, is goed. Mag hulle altyd soveel eerbied vir My hê en al my gebooie gehoorsaam sodat dit altyd goed kan gaan met hulle en hulle nageslag." (Deut 5:24 29)

Wanneer die mens hom verootmoedig voor God weet ons deur die Skrif dat God so'n mens nooit sal wegwys nie. Jesus nooi almal as Hy sê:

"Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig." (Matt 11:28 30)

Vandag is ons bevoorreg om terug te kan kyk op die ontvouing van God se heilsplan in Jesus Christus. Die volk by Horeb het dit egter vêr in die toekoms, asof in mis gehul, gesien. Paulus verwys ook na Israel wat by Horeb die wet ontvang het.

"Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie." (Gal 3:24,25)

Dan vervolg hy egter verder met 'n baie belangrike punt:

"Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, moet lewe soos mense wat aan Christus behoort." (Gal 3:26,27)

Dawid het ook geweet:

"U sal 'n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God." (Ps 51:19)

Hoe sal ons ooit die heilswerk van God kan deurgrond? Wanneer 'n mens voor God in ootmoed kom staan gebeur daar iets. Die mens word nuut gebore, herskep, alles word nuut. Kyk net na die Skrif!

"Daarop sê Jesus vir hom (Nikodemus): "Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie." . "Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees." " (Joh 3:3 6)

"Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God." (I Kor 5:17)

Skielik aanbid ons nie meer 'n God wat daar vêr is nie, maar is ons kind van God. Ons is nou uit die Gees gebore.

"julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: "Abba!" Dit beteken Vader." (Rom 8:15)

Hoe God hierdie dinge in die mens bewerk, die wedergeboorte en die bekering, dit verstaan ons maar min van, maar dit is ook nie belangrik nie. Jesus het self vir Nikodemus geantwoord op hierdie vraag:

"Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is." (Joh 3:8)

So vervul God male sonder tal sy belofte in Esegiël:

"Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggame uithaal en julle 'n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom" (Es 36:26,27)

Saam met die verootmoediging van die mens is ook die gebed. Die Heidelbergse Kategismes dui gebed bv. aan as ons vernaamste deel van ons dankbaarheid wat ons aan Hom kan betoon vir sy reddingsdade. (Heidelbergse Kategismes, Sondag 45, vraag 116) Asaf het bv. Gesê:

"Lof is die offer wat jy aan God moet bring." (Ps 50:14)

God wil dit so hê dat ons in afhankilkheid na Hom moet kom. Hy is gesteld daarop omdat Hy weet dat die basiese sonde van die mens is om homself voor God te verhef. As die mens na God kom moet hy dus in volle afhanklikheid kom. Selfs ook wat die daaglikse behoeftes betref.

"Vra, en vir julle sal gegee word; soek en julle sal kry; klop en vir julle sal oopgemak word" (Matt 7:7)

"As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee die Vader in die hemel nog meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra." (Luk 11:13)

Die noue gemeenskap met God deur die Heilige Gees word dus veral vertroetel en versterk in die gebed voor God. So bring ons lof aan God, so bid ons dat sy wil sal geskied en so vra ons Hom om ons na gees en liggaam te versorg. Let weer na die eenvoud, maar ook na die ontsettende diepte van die gebed wat Jesus sy dissipels geleer het:

"Ons Vader wat in die hemel is,

laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom;

laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Gee ons vandag ons daaglikse brood;

en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die bose. (Matt 6:9 13)

Die mens se antwoord op die hoop van die evangelie

Die evangelie het tot die mens in geloof gekom deurdat iemand dit aan hom verkondig het. Nou is hierdie mens self kind van God, 'n verteenwoordiger van Hom. Die opdrag van Jesus aan sy dissipels geld ook nou vir die gelowige van vandag.

"Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word." (Mark 16:15,16)

Hierdie opdrag word egter onmiddelik opgevolg deur 'n belofte vir die wat in gehoorsaamheid God se opdrag uitvoer.

"Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle duiwels uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word." (Mark 16:17,18)

As ons in die boek Handelinge lees sien ons hoe al hierdie beloftes waar geword het vir die wat die evangelie verkondig het. Dink maar aan Petrus se toespraak op pinksterdag (Hand 2:8), die genesing van die verlamde deur Petrus en Johannes (Hand 3:6), God wat Paulus gebruik het om siekes gesond te maak en bose geeste uit te dryf (Hand 19:12) en die slang wat Paulus gepik het op Malta (Hand 28:5).

'n Mens wonder soms of ons as christene nie vandag baie soos die mense van Nasaret is en wat niks van Hom wou weet nie.

"Vanweë hulle ongeloof het Hy daar nie baie wonderwerke gedoen nie." (Matt 13:58)

Is ons bereid om alles te gee vir die verkondiging van die evangelie? Om self dit te doen en deur ons dienswerk ander in staat te stel om dit voltyds te doen? Besef ons die belangrikheid van Jesaja en Paulus se woorde:

"Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring."  (Rom 10:15, Jes 52: 7)

As gelowige, wat nou God se liefde vir die mens deelagtig geword het, word ons gedring om na ons medemens uit te reik en die evangelie met hom te deel. Om die goeie nuus ook vir hulle wat dit nog nie gehoor of dit nog nie aanvaar het, mee te deel.

Die mens in geloof se reaksie tot sy medemens

"Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as 'n versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik." (I Joh 4:10)

Die boodskap van Johannes is duidelik: God het ons in sy groot liefde na Hom getrek. Dit is sy wil en bedoeling dat ons, as sy verteenwoordigers, weer ander na Hom moet trek. Jesus is nie vandag in sy menslike gestalte hier op aarde nie. Ons is God se liggaam, sy gemeente. Ons moet nou sy liefde uitdra teenoor ons medemens. Hierdie gedagte word telkens herhaal in die Skrif. Jesus haal bv. uit Deut 19:17 aan as hy die wet opsom:

"Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." (Matt 22:39)

Die dissipels is deur Jesus vermaan:

"Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê." (Joh 15:12)

Petrus onderstreep ook die gedagte.

"Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê." (I Petr 1:22)

"Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser." (I Petr 2:17)

Die bekende hoofstuk 13 in I Korintiërs gee 'n treffende beeld van wat liefde is. Tog word die hoofstuk baie maklik vervlak en die liefde oppervlakkig gemaak as ons dit buite die konteks van die Skrif sou hanteer. Hoe baie word nie daardeur die indruk geskep dat die liefde so sagmoedig is, so geduldig en so vriendelik dat dit nie ook ferme optrede kan akkommodeer nie. In Skrifverband weet ons dat God liefde is en dat Hy weens sy liefde sy Seun gegee het as versoening vir ons sondes (Joh 3:16). Daarom kan ons I Kor 13 sien in die lig van Jesus se lewe op aarde. 'n Mens kan byna die woord "liefde" elke keer vervang met "Jesus". Skielik kry die hoofstuk 'n heel ander betekenis. Byvoorbeeld:

"Die liefde (Jesus) is geduldig, die liefde (Jesus) is vriendelik; ...

Dit (Jesus) verbly Hom nie oor die onreg nie maar verheug Hom oor die waarheid.

Dit (Jesus) bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles. (I Kor 13)

In die lig van Jesus se lewe kan ons sien hoedat die liefde nie sy eie belang soek nie, maar die belang van die Vader. Hy het sy lewe in gehoorsaamheid afgelê. Hy het Homself nooit voor of teenoor die mense verdedig nie, maar in al sy gesprekke, veral dié met die kerkleiers, het Hy nie geskroom om sy Vader se eer te verdedig nie. Jesus het Hom nie verbly oor die onreg nie, maar Hy het gebid vir hulle wat Hom oorgelewer het. Hy was hartseer oor Petrus se verraad maar Hy het vir sy dissipels gebid, hulle vermaan, hulle geleer en ook later, na sy opstanding, hulle weer bymekaar gebring en hulle opnuut uitgestuur as sy volgelinge.  Die liefde van God is dus veel meer as net mooi woordjies en verdraagsaamheid. Dit lê die eie lewe af, dit vermaan, dit tug selfs, dit skenk vergifnis, dit bemoedig, dit help dra   alles om God se eer te soek en sy Naam te verheerlik.

"My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou tereg wys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem. Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. ... Ons vaders het ons wel 'n kort tydjie na hul goeddunke getug, maar Hy tug ons tot ons beswil sodat ons in sy heiligheid mag deel." (Hebr 12:5 10)

Ons gaan vandag gebuk onder die invloed van die humanisme met hul goedkoop naasteliefde. Enige vorm van tug sou dan vanuit die bose wees. Die Skrif is egter baie duidelik dat die tug juis daar is om in God se heiligheid te mag deel. Liefde en tug loop hand aan hand. Liefde impliseer tog betrokkenheid by mekaar. Die Hebreër skrywer sê o.a.:

"Maar solank daar nog 'n "vandag" is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie." (Hebr 3:13)

"Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien naderkom." (Hebr 10:25)

Hoe moet ons optree teenoor hulle wat buite die gemeente is? Ons het tog geen reg hul te vermaan nie? Nee. Hulle wat buite die gemeente is moet ons respekteer (I Petr 2:17). God se opdrag aan Israel was baie duidelik:

"Gehoorsaam die voorskrifte en lewe daarvolgens, want daaraan sal al die ander volke sien dat julle wysheid en insig het. Hulle sal van al hierdie voorskrifte hoor en sê: "Net hierdie groot nasie het wysheid en insig." Watter groot nasie se god is so by hom soos die Here ons God by ons is elke keer as ons tot Hom bid?" (Deut 4:6,7)

Ons, as christene, se lewens is die venster vir die ongelowige om iets van God se genade en liefde te kan sien. Daarom is dit van kardinale belang dat ons lewens dit ook sal uitdra, dat hierdie persoonlike venster op God se genade nie deur sonde besoedel sal wees nie. Die wêreld daar buite lees nie die Bybel nie. Ons is die bybel wat hulle lees. Petrus stel dit:

"Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening." (I Petr 2:12)

Die gelowige mens se reaksie teenoor die Bybel as die woord van God

"Dit moet julle veral weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig." II Petr 1:21,22)

Wanneer die mens tot geloof in God gekom het, verander sy beskouing en die hantering van die Skrif ook soos handomkeer. Waar die Bybel voorheen slegs gesien was as miskien 'n boek wat sedelesse bevat met sekere voorgeskrewe rituele, of dalk 'n boek wat soos enige ander boek hanteer moet word, verander dit nou na 'n Boek wat die woorde van die lewende God bevat. 'n Boek wat ten volle vervat en vervul is in die Seun van God. Hoe het Jesus die Skrif hanteer? Matteus vertel o.a.

"Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan, as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is." (Matt 5:17,18)

Ons het in Genesis gelees dat God slegs deur 'n woord die hemel en die aarde gemaak het. Dit is dus duidelik dat God se woord meer en groter as selfs die hemel en die aarde is. Dit is ook waarom Jesus sê dat die hemel en die aarde eerder sal vergaan voordat sy Woord sal vergaan. Die belang van die Bybel is daarin God se woorde daarin vervat is. Daarin is God se skeppingsplan beskryf en word sy voortgaande instandhouding van die skepping vir ons duidelik gemaak. Maar dit is nog meer as dit. God se werk deur Jesus Christus word ook daarin geopenbaar.

"In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord  was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie." (Joh 1:1 3)

Ja, Jesus Christus is die Volmaakte, die vervulling van God se woord. Daar is reeds verwys na die volk Israel wat by Horeb nie kon bly staan toe God met hulle gepraat het nie. Die Hebreërbrief verwys ook na hierdie gebeurtenis, maar dan toon hy dat ons nie nou by die brandende berg gekom het nie maar by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond (Hebr 12:18 24). Hy vervolg dan met die waarskuwing:

"Pas op, moet Hom wat met julle praat nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelik woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie?" (Hebr 12:25)

Die Bybel is dus 'n kragtige afbeelding van Jesus self wat uit die hemel met ons gepraat het. Hy, as God self, het mens geword en tussen die mense kom woon en werk. As ons hierdie dinge aanvaar moet ons ook toon dat ons onsself geheel aan Hom onderwerp soos wat Hy Homself aan God onderwerp het.

Soos Jesus die gesag van die Skrif ten volle aanvaar het kan ons ook by Hom en by die apostels leer hoe om die Bybel te hanteer en te interpreteer. Hy het nie geskroom om gebeurtenisse van die Ou Testament direk op Homself van toepassing te maak. Neem maar Jona wat drie dae en nagte in die maag van 'n groot vis was. Jesus pas dit letterlik op Homself toe en sê dat Hy ook so in die aarde sal wees (Matt 12:40). Sy eie opstanding uit die dood word volgens Hom direk voorspel deur Jona se lewe.

Die koningin van die Suide het erken dat Salomo se God groot is (I Kon 10:9). Jesus was egter groter as Salomo en daarom sou die koningin teen hierdie geslag getuig wat nie wou glo nie. (Matt 12:42)

Hoekom kon Jesus dit doen? Het Hy nie die gedeeltes heel buite verband gebruik nie? Nee, want ons het reeds vir mekaar gesê dat God die skepper van alles en almal is. Ons weet ook dat Hy sy skepping onderhou en bestuur. Dit is dus 'n logiese gevolgtrekking dat Hy net daartoe in staat is nie, maar dat Hy dinge laat gebeur wat 'n geweldige simboliese les vir ons inhou. Dink maar aan die offerdiens wat ingestel is, Abraham wat vir Isak moes gaan offer en Israel se trek uit Egipte.

Die apostels hanteer die Skrif op dieselfde manier. Petrus bring die ark wat Noag en sy gesin deur die sondvloed gedra het direk in verband met die doop. (I Petr 3:21) Paulus vergelyk Hagar en Sara en hul kinders met die twee verbonde, Hagar vir die wettiese verbond waarin ons slawe was, terwyl Sara en haar kind vergelyk word met die nuwe verbond, die nuwe Jerusalem waarin ons kinders van God is en nie meer slawe nie (Gal 4:21 31).

Die gevaar van 'n enge "objektiewe" siening en verklaring van die Bybel is daarin dat ons Petrus se vermaning vergeet dat die Skrif nie uit eie insig reg uitgelê kan word nie (II Petr 1:20). Dat ons vergeet dat die Woord van God nog vandag met elkeen van ons praat. God het Homself as getrou bewys, Hy is die waarmaker van sy beloftes. Hierdie beloftes is vandag nog net so geldig en daarom mag ons nie ligtelik met die Bybel omgaan nie. Hy praat vandag nog deur die Skrif met elke mens.

As ons die Bybel opneem om dit te bestudeer moet dit altyd in 'n biddende gesindheid wees. Dat sy Gees self die woorde sal verduidelik en ons die geloof sal gee om daaraan vas te hou. Ons kan dit met vrymoedigheid doen. Daar is nie foute in die Skrif soos sommige wil voorgee nie. Welliswaar verstaan ons nie alles nie maar Paulus se opmerking bly ook vir die Bybel waar:

"Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieel en sien 'n raaiseagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is.  Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken net soos God my ten volle ken. (I Kor 13:12)

Baie van die "foute" wat al aangetoon is, is mettertyd bewys as geen foute nie. Soos wat ons kennis en begrip van die mense van die ou tyd verbeter, verbeter ook ons begrip van in watter konteks dinge beskryf en geskryf is en maak dit skielik sin.

Kom ons verootmoedig ons ten volle voor God, soos wat Hy homself ook in die Skrif geopenbaar het, en kom ons aanvaar sy beloftes as ewig en waar, ook vir ons vandag.

Die gelowige mens se reaksie teenoor die skepping van God

"U het hom (die mens) net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis." (Ps 8:6 9)

Die mens wat tot geloof in God deur Jesus Christus gekom het se hele perspektief en benadering tot die skepping ondergaan 'n dramatiese verandering. Waar hy voorheen die skepping gesien het as moontlik sy god, of sommer net argeloos daarteen gestaan het, verander dit nou in 'n besef dat God die mens in beheer van skepping geplaas het (Gen 1:28). 'n Geweldige verantwoordelikheid wat aan die mens gegee is!

Uit die geskiedenis van die wetenskap is daar al voorheen getoon watter belemmerende invloed dit op die wetenskap het as mense nie met die oortuiging dat God die Skepper van alles is, die natuur bestudeer nie. Plato en sy tydgenote se idee dat alles uit die menslike beredenering gebore moes word het die wêreld vir eeue verhinder om onbevange die natuur na te vors. Kant se  stellings, wat weer na 'n ander uiterste geswaai het, en wat beweer het dat die mens niks meer kan weet as wat hy fisies kan beleef nie, het ook die wêreld se wetenskaplikes verhinder om gouer die tekortkominge van die oneindige heelalmodel raak te sien. Uit hierdie kortsigtigheid, om nie verby die skepping na die Skepper te kyk nie, is allerlei dwase teorië gebore wat die mens weg van sy God probeer lei.

Die siening dat die mens aangestel is om oor God se skepping te heers, het op al die vlakke van die samelewing sy invloed. Die boer wat van sy lande se opbrengs afhanklik is, die myner wat grondstowwe uit die aarde delf, die industrialis wat die grondstowwe verwerk, die administratiewe persoon wat moet help om die organisasie se wiele ge olie te hou, die student, die kind en ouer by die huis, almal moet besef dat hulle op een of ander manier God se skepping reg moet bestuur. 'n Eenvoudige daad soos om rommel te strooi kan nie tot God se eer wees nie. Die aarde en sy natuurlike hulpbronne moet nou uit hierdie perspektief met oorleg en oordeel benut word, en nie net vir die eie persoonlike rykdom en genot nie. Tog het God ook hierdie dinge tot die mens se beskikking gestel.

Daar is reeds aangedui dat die ganse heelal slegs daar is om die mens te kan onderhou. God het dit ook alles aan die mens gegee om daaroor te heers en dit te benut. Toe Israel op die punt gestaan het om in die beloofde land in te trek het God vir hulle gesê:

"Jy moet die gebooie van die Here jou God gehoorsaam en sy wil doen. Jy moet Hom dien, want Hy sal jou in 'n goeie land bring: 'n land met waterstome, met fonteine en riviere wat in die valleie en berge ontspring,  'n land met koring en gars, wingerde, vyebome en granate, 'n land met volop olyfolie en heuning, 'n land sonder armoede, waarin jy genoeg sal eet en niks kortkom nie, 'n land waarin daar volop yster in die klippe is en waar jy kan koper delf in die berge." (Deut 8:6 9)

Opsommend

God het dit so beskik dat die hele mileu waarin die mens beweeg moet meehelp om aan die mens te toon dat Hy getrou is. Hy het alles vir die mens voorsien om die mens tot saligheid te bring. Wanneer die mens sy God in Jesus Christus aanvaar, word hy herstel in sy posisie as God se verteenwoordiger. Soos Genesis dit stel:

"Toe het God gesê: "Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip." God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep." (Gen 1:26,27)

Jesus het egter die opdrag van die mens uitgebrei om ook ander mense tot geloof in Hom te bring.

"Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom." (Mark 16:15)

Nou, na die werk van Christus, is die mens vir die eerste keer in staat om dit te kan doen. Kom ons doen dit met volharding en tot die eer van ons Hemelse Vader, wie se liefde vir die mens, vir ons, onmeetlik groot is.