Matthys Maree (Thys)

Persoonlike webwerf

Ek glo Here... Kom my ongeloof te hulp!

Die liefde van 'n medemens

Die liefde van christene tot die mens in nood.

"Die mens het met sy vrou Eva gemeenskap gehad, en sy het swanger geword. Sy het vir Kain in die wêreld gebring en uitgeroep: "Ek het 'n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here!" " (Gen 4:1)

In die vorige gedeeltes is daar gelet op die skepping en die Woord van God en hoe dit deur God daar gestel is om die mens tot geloof te bring. God wil egter dat christene se liefde vir mekaar en vir ander wat nog buite die geloof staan, moet meehelp om die ongelowige na Hom te bring. Daardie eerste huisgesinnetjie op aarde se liefdesband moes ook getuig van God, hul Skepper, se liefde. Die opdrag van Jesus in Matteus 22 is bv. baie duidelik:

"Jy moet jou naaste liefhê soos jouself". (Matt 22:39)

Die Bybel stel dit in baie duidelike terme dat die liefde die vervulling van die wet is.

Julle moet niemand iets veskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. Al die gebooie: "Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie", of watter ander gebod daar ookal is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself." Die liefde doen die naaste geen kwaad nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet."

Waarom is liefde so belangrik? Want God self is liefde.

"God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê."

Jesus het die christendom daartoe beveel.

"Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê." (Joh 13:34)

Jesus vervolg egter dadelik met 'n baie belangrike rede hoekom Hy vir ons hierdie gebod gegee het.

"As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is." (Joh 13:35)

Jesus het as mens aarde toe gekom en as die Volmaakte was Hy ook in staat om die hele gebod van God te onderhou. Deur sy lewe het hy getoon wat God se liefde vir die mens regtig beteken.

"Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly." (Joh 15:9)

Die vier evangelies in die Bybel het talle voorbeelde aangehaal waar Jesus deur sy lewe en werk mense na Homself en na God toe getrek het. 'n Paar bekende voorbeelde is:

"Twee blindes wat langs die pad het, het gehoor dat Jesus verbykom. Toe roep hulle uit: "Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!" ... Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: "Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?" Hulle sê toe vir Hom: "Here, dat ons oë kan oopgaan." Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg." (Matt 20:30 34)

"Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. Daar was 'n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, 'n ryk man. Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te klein was. ... Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: "Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan." Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. ... "Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug." Daarop sê Jesus: "Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham. Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is."" (Luk 19:1 9)

"Daar kom toe 'n vrou water haal, en Jesus sê vir haar: "Gee My 'n bietjie water om te drink." ... Die vrou het vir Hom gesê: "Ek weet dat die Messias kom, Hy wat ook die Christus genoem word. Wanneer Hy kom sal Hy alles aan ons bekend maak." Toe sê Jesus vir haar: "Dit is Ek, Ek wat met jou praat." ... Die vrou het toe haar waterkruik net daar laat staan en na die dorp toe gegaan en vir die mense gesê: "Kom kyk, hier is 'n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het. Is Hy nie miskien die Christus nie?" ... Nog baie meer van hulle (Samaritane) het toe tot geloof in Hom gekom op grond van wat Hy gesê het; en hulle het vir die vrou gesê; "Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie, want ons het self na Hom geluister, en ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is."

Al drie hierdie ontmoetings illustreer Jesus se intense belangstelling in die mens. Vir Hom is die mens nie maar net 'n nommer op 'n ID boek nie. Nee, Hy sien elkeen persoonlik raak. Wat anders het Saggeus oortuig? Daar was nie 'n wonderwerk waardeur Saggeus gesond geword het nie. Nee, die wonder was dat Jesus vir hom as 'n sondaar raak gesien het. Dat Jesus weer vir hom menswaardigheid gegee het.

Dieselfde kan ook van die Samaritaanse vrou gesê word. Hier was 'n man wat haar nie veroordeel het nie, wat uitgereik het na haar as mens en wat bereid was om vir haar iets onvoorwaardelik te gee   die water van die ewige lewe.

Die uiterste vorm van liefde is:

"Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê." (Joh 15:13)

Weereens het Jesus self getoon dat Hy ons so liefhet dat Hy sy lewe vir ons afgelê het!

Hoe groot is die liefde en genade van God nie! Hoe smag die wêreld nie na die onvervalste liefde van Christus Jesus nie!

'n Mens kan redeneer: Dit is goed en wel dat Jesus al hierdie dinge gedoen het. Hy het egter opgevaar na die hemel om aan die regterhand van die Vader te sit. Hoe kan die wêreld Hom vandag sien?

In God se groot raadsplan het Hy ook hiervoor voorsiening gemaak. Jesus het sy dissipels se ontsteltenis oor dieselfde vraag duidelik beantwoord.

"Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat hy by julle bly en in julle sal wees." (Joh 14:15 17)

Dit is duidelik dat die wêreld nie vir God kan sien nie, ook nie die Gees van die waarheid, die Trooster en Helper nie, maar   die wêreld sien elke dag, elke oomblik christene, en hoe hulle optree.

Jesus, as die gestuurde van God

"Die werk wat die Vader My gegee het om te voltooi en waarmee Ek nou besig is, lê oor My getuienis af en bevestig dat die Vader My gestuur het." (Joh 5:36)

Maar Jesus het ook vir ons op dieselfde wyse gestuur om sy verteenwoordigers hier op aarde te wees. In Jesus se gebed het Hy dit so gestel:

"Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld gestuur; en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees." (Joh 17:18)

As ons maar iets kan verstaan omtrent die belangrikheid van ons as christene se optrede elke dag! Daardeur is ons in staat om God te verheerlik of om God se Naam te beswadder.

Paulus se toewyding aan God ook in moeilike omstandighede (Hand 27 en 28)

Kom ons let op 'n gebeurtenis in die apostel Paulus se lewe om dit wat Jesus vir ons almal bedoel het te illustreer. Na Paulus se gevangeneming a.g.v die oproer in Jerusalem het hy hom op die keiser beroep. (Hand 25:11) Na 'n tyd is Paulus oorhandig aan Julius, 'n offisier van die keiserlike regiment.

Lukas, die skrywer van die boek Handelinge, staan 'n volle twee hoofstukke aan hierdie reis af. (Hand 27 en 28) Lukas was waarskynlik saam met Paulus gewees aangesien hy in die vertelling verwys na "ons". Vir hom moes die gebeurtenisse op hierdie reis belangrik genoeg gewees het om iets te toon van die werking van die Heilige Gees in 'n christen se lewe en die invloed daarvan op ons getuienis.

Nadat Paulus hulle vertrek het, het hulle baie stadig gevorder tot by Mooi Hawens, omdat "dit het al gevaarlik begin word vir skeepvaart, want dit het al winter begin word". (27:9) Paulus waarsku hulle toe:

"Manne, ek sien dat ons vaart van nou af gevaarlik sal wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie maar ook lewensverlies." (27:10)

Die offisier het egter meer waarde geheg aan die skeepskaptein se mening as aan Paulus s'n. As christene dink ons maklik: "Wat 'n ongelowige offisier!" Tog kan 'n mens ook sien dat die offisier die regte besluit geneem het. Wie was Paulus dat hy meer as die skeepskaptein sou weet van die see en die weer? Na alles, Paulus was maar net 'n gevange oor 'n godsdienstige opstand.

Die verhaal gaan verder waar hulle dan wel voortgaan met die reis en dan word hulle in die storm vasgevang. Dit is opmerklik dat Paulus die besluit van die offisier aanvaar het en dat hy nie alles in sy vermoë gedoen het om hom tot ander insigte te bring nie. Intussen het die storm al erger geraak.

"Dae lank was die son en die sterre nie te sien nie en het die geweldige wind voorgewoed. Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word." (27:20)

Nou kon Paulus weer optree. Sy boodskap aan die mense was 'n boodskap van hoop.

"Manne, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade vrygespring het. Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! Niemand van julle sal sy lewe verloor nie. Net die skip sal vergaan. ... Die engel het vir my gesê: "Moenie bang wees nie, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En ter wille van jou spaar God in sy goedheid die lewe van almal wat hier saam met jou op die skip is." Daarom, hou moed, manne! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het. Dit is so bestem dat ons êrens op 'n eiland moet strand." (Hand 27:21,22)

Paulus het nie opgetree voordat God deur 'n engel aan hom verskyn het nie. Hy het in volkome afhanklikheid van sy Hemelse Vader gelewe. Paulus se gesag was nou gevestig.

Nou kon die offisier vir Paulus vertrou en hy doen dit ook! Die offisier keer, op Paulus se aanbeveling, dat van die matrose in die bootjie wegvlug. Hulle neem ook voedsel en nadat Paulus (vir almal) gedank het het hy en almal begin eet en daardeur moed geskep. Nadat almal genoeg geëet het, het hulle die vrag koring in die see gegooi om die skip nog ligter te maak   wat 'n geloofsdaad! (Hand 27:30 38)

Almal het veilig aan land gekom. Weereens het Paulus se woord waar gekom.

Die gebeure op die eiland, die slang wat Paulus pik, die genesing van Publius se pa asook ander siekes, het die mense van die eiland se harte vir Paulus hulle oopgemaak sodat hulle hulle met baie geskenke vereer het en hulle van alles voorsien het vir hulle verdere reis. (Hand 28:1 10)

Lukas beskryf nie vir ons of enige van hierdie mense tot geloof in Jesus Christus gekom het nie, maar ons kan seker wees dat daardie afdeling soldate nie sou stilbly oor wat gebeur het nie. Paulus se vergunning om alleen te kon bly, net met 'n soldaat om hom op te pas, kan sekerlik ook te wyte wees aan hierdie gebeure. (Hand 28:16)

Jesus het nie belowe dat Hy ons uit alle gevaar sou red nie, maar Hy het ons na die wêreld gestuur net soos wat Hy gestuur was. (Joh 17:18) Net soos wat hy deur al die swaarkry van die wêreld moes gaan moet ons ook.

Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword" (Hebr 5:8,9)

Paulus se hele optrede tydens hierdie gebeure het getuig van iemand wie se lewe in 'n Hoër Hand was. Iemand wat 'n persoonlike verhouding met sy God gehad het en wat dit ook ondubbesinnig uitgeleef het.

Die christen se lewe 'n inset tot 'n medemens se geloof

Hoe moeilik maak ons dit nie soms vir mense om die evangelie van Jesus Christus te glo deurdat ons lewens nie altyd getuig van God se genade nie. Petrus beklemtoon die belangrikheid daarvan as hy die uitverkorenes aanspreek om heilig te lewe.

"As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee soos Hy wat julle geroep het heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: "Wees heilig, want Ek is heilig."" (I Petr 1:14 16)

"Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, 'n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat. ... Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê." (I Petr 2:15,17)

Paulus bevestig dieselfde gedagte.

"Al wat van belang is, is geloof wat deur liefde tot dade oorgaan." (Gal 5:6)

Uit die Skrif is dit duidelik dat die liefde wat christene teenoor mekaar asook teenoor die wêreld leef, 'n kragtige argument is vir enige mens om tot geloof te kom. Sou die gelowiges se lewe egter van die teenoorgestelde getuig, soos ongelukkig dikwels gebeur, is dit net so 'n groot struikelblok wat ons in die ongelowige se pad lê om tot geloof te kom. Jesus se waarskuwing geld ook vir ons

"Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig, maar wee die mens deur wie dit kom." (Matt 18:7)

Kom ons rig ons lewens so in dat God daardeur verheerlik kan word.

"Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges."

Opsomming

Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Daardeur is ons verseker van God se liefde vir die mens. Elke christen het die roeping en taak om ook hierdie selfde liefde uit te leef om so God se koninkryk op aarde uit te brei.