Matthys Maree (Thys)

Persoonlike webwerf

Ek glo Here... Kom my ongeloof te hulp!

Die hoop van die evangelie


Die evangelie van Jesus Christus

Die hulpelose toestand van die mens voor God

"Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is. Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook 'n vlammende swaard wat heen en weer beweeg het." (Gen 3:23,24)

Die mens is vandag nog uitgesluit met geen toegang tot die boom van die lewe nie. Die spontane kontak wat daar tussen die mens en sy Skepper was, is verbreek. Tog poog die mens steeds om op verskeie maniere hierdie leemte, wat deur hierdie skeiding ontstaan het, te vul en te oorbrug. Van die primitiefste volke af, van die mens se geskiedenis bekend is, het volke op een of ander manier gepoog om weer by God uit te kom.

Waar is die pad na God? Die populêre antwoord is dat die mens sy lewe moet inrig volgens die gebod van God. So kan hy sy plekkie in die tuin van Eden weer verdien. Die leuen van die slang word nog steeds geglo:

"Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken." (Gen 3:4)

Steeds probeer die mens om soos God te wees. Die mag van die leuen is daarin geleë dat dit op halwe   en verdraaide waarhede gegrond is. Deurdat dit so na aan die waarheid is, is die verskriklike gevolge van die leuen waarheid verberg. Nooit het Adam en Eva besef dat hulle siele wel nie sal sterwe nie, maar dat hulle gemeenskap met God sou sterf, dat die mens wel soos God sal wees deurdat hulle sal weet wat reg en wat verkeerd is, maar dat deur dieselfde kennis hul kennis van God en openheid teenoor God ernstig benadeel sou word. Die hele doel van die leuen was om God se gesag af te breek en om skeiding te bring tussen die mens en God.

Die vlammende swaard weerhou vandag nog die mens om by God te kom. God kan weens Sy heilige aard nie die mens in sonde voor Hom verdra nie. Tog was God die mens genadig. Hy is nie onmiddelik na die graf gestuur nie - dit kon God tog gedoen het - nee, hy is terug gestuur na die grond waaruit hy geneem is. Die mens is alle toegang tot die tuin, en die boom van die lewe, verbied, maar tog is God die mens genadig om vir hom velklere te maak. God het die mens selfs gehelp om dit aan te trek! Let op na die simboliek van hierdie daad van genade!

Adam en Eva se eie pogings om hulle naaktheid te bedek was maar power. Die vyeblare wat hulle aanmekaar gewerk het was nie goed genoeg om hul toe te laat om voor God te verskyn nie. Hulle moes nog wegkruip tussen die bome om hulself vir die heilige God te verberg.

"en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: "Waar is jy?"

en die mens antwoord: "Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip."" (Gen 3:8 10)

God het toe self vir die mens en sy vrou velklere gemaak. Daar moes diere geslag word om die velle te kon voorsien. Hierdie klere moes hul beskerm teen die elemente van die natuur buite die beskutting van die tuin van Eden. Maar dit dui ook op God se genade hoe hy eeue later sou ingryp om deur sy Seun se bloed die mens se sonde te oordek en sy skuld te betaal.

Die slang was reeds in Eden vervloek en die belofte was

"Haar nageslag sal jou kop vermorsel..."

Alhoewel Adam dit seker nie verstaan het nie, kon hy tog vashou aan God se beloftes. God het Homself reeds aan Adam geopenbaar as betroubaar en 'n waarmaker van sy woord.

Stadig deur die geskiedenis van die mensdom het God Homself alhoemeer geopenbaar aan die mens. Hoogtepunte is o.a.

die verbond met Abraham (Gen 17),

die roeping van Moses (Eks 20),

die wet wat vir die volk Israel gegee is (Gen 20) en

die hoogtepunt in die volk Israel se geskiedenis onder die koningskap van Dawid en Salomo.

Tog blyk dit deur die geskiedenis, dat die mens net eenvoudig nie by magte is om self by God uit te kom nie. Die volk Israel het in twee versplinter, hulle is weggevoer in ballingskap. Waarskuwings van profete het keer op keer op dowe ore geval.

Die misrabele toestand van die mens word op 'n byna depressiewe noot deur die Prediker geskilder. Hy het alle moontlike voorspoed op aarde gesmaak en beleef. Hy het kennis en insig gehad, hy kon die lewe op enige manier geniet, maar tog kom hy tot die ontstellende ontdekking:

"Daar is geen mens op aarde regverdig nie, niemand wat net goed doen en nie sondig nie." (Pred 7:20)

Hierdie paadjie wat die mensdom geloop het en soos dit veral in die volk Israel beskrywe is, word in die kleine byna net so deur elke mens geloop. Net soos Adam voor God moes erken dat hy naak is, net so moet elkeen ook eers die hopeloosheid van sy persoonlike toestand voor God besef voordat God kan ingryp om te help.

Die ingrepe van God

Reeds aan Adam en Eva het die belofte gekom het dat die slang se kop vermorsel sou word. Hoe sou dit egter moontlik wees uit Eva se nageslag as die mens op geen manier self by God kon kom nie? Paulus antwoord soos volg:

"Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot die hele wêreld deurgedring, omdat almal gesondig het. ...

Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk. ... Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer." (Rom 5:12 21)

Wie is hierdie Een; Jesus Christus?

"Die Seun is die beeld van God,

van God wat self nie gesien kan word nie.

Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.

God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op aarde is: ...

Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel,

deur Hom het Hy alles op aarde en in die hemel met Homself versoen."

(Kol 1:15 20)

Maar hoe het God deur sy Seun die vrede kom herstel?

Net soos wat die diere geslag moes word om vir die mens velklere te kon maak, net so moes Jesus geslag word om die mens se sonde te kon uitwis.

"Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig." (Hebr 13:12)

Petrus stel dit soos volg:

"In sy groot ontferming het Hy (God) ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word julle ook deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word." (I Petr 1:3 5)

So het God se belofte waar gekom dat die slang se kop vermorsel sou word deur Eva se nageslag. Nou kan ons saam met Paulus uitroep:

"Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here." (Rom 7:24)

Die lewe in geloof

As ons sou glo in die evangelie - is dit dan al? Ja, geloof is al wat nodig is, maar tog moet ons daarop let dat geloof 'n totale ommeswaai van die mens vereis. Geloof kan nie in ons lewens werksaam wees as dit nie ook 'n duidelike invloed op ons lewenswandel het nie. Jesus se waarskuwing geld nog steeds vir elke mens:

"Nie elkeen wat vir My sê: "Here, Here," sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemel is."

Die verkondiging van die evangelie

Alles wat ons tot nou toe bespreek het, help egter niks as daar nie iemand is wat die evangelie, die goeie boodskap van verlossing deur Jesus Christus, verkondig nie. Dit is ook die groot en laaste opdrag wat Jesus aan sy dissipels gegee het voordat Hy na die hemel toe opgevaar het.

"Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word."

Ons as lidmate van die kerk van Christus moet onsself gedurig ondersoek of ons eerste prioriteit steeds is om God se koninkryk hier op aarde te huisves. Ons kan nie almal sendelinge wees nie, nie almal predikers nie, maar watter dienswerk ons ookal beklee, dit moet altyd gerig wees om God se koninkryk hier op aarde uit te brei. Paulus se standpunt rondom die evangelieverkondiging stel hy duidelik:

"Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie Jood. In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hul sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: "Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo sal lewe."" (Rom 1:16,17)

"Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is." (Kol 1:5 8)

Opsomming

God het die mens uit Eden uitgedryf. Deur sy Seun, Jesus Christus, het Hy egter vir die mens 'n nuwe tuiste voorberei, die nuwe stad Jerusalem, die nuwe hemel en aarde waarin Hy vir ons wat glo elkeen 'n plek voorberei het. En in sy huis is daar baie woonplek, waarheen Jesus ons sal neem as Hy weer kom op die wolke as oorwinnaar en koning."

"Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Afstammeling, die Nakomeling van Dawid. Ek is die Môrestêr."

Die Gees en die bruid sê: "Kom!"

en elkeen wat die hoor, moet sê: "Kom!"

en elkeen wat dors het, moet kom;

elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry,

verniet!" (Open 22:16,17)

Hy wat dit alles getuig, sê: "Ja, Ek kom gou!" (Open 22:20)