Matthys Maree (Thys)

Persoonlike webwerf

Ek glo Here... Kom my ongeloof te hulp!

Die Skrif

Die betroubaarheid van die Bybel in die lig van die wetenskap en die geskiedenis

Baie kritiek word teen die Bybel as die woord van God gelewer. Bewerings word gemaak dat die Bybel vol historiese en wetenskaplike foute sou wees. Daarmee word geïmpliseer dat God se goddelike inspirasie onvoldoende sou wees om die Bybel se inhoud sonder foute vir ons te gee. Anders word ook gesinspeel dat die Bybel maar alleen 'n menslike boek is soos enige ander boek of versameling geskrifte.

Vir ons as christene is dit duidelik dat die aanklag vanuit die wêreld, en selfs vanuit die kerk nie ligtelik opgeneem kan word nie maar dat dit insny in die fondamente van ons geloof.

Die skeppingsverhaal staan gewoonlik in die midde van die kontroversie oor die korrektheid van die Skrif al dan nie. Soos voorheen sal daar eers gelet word op die ontwikeling van die huidige standpunte rondom die Bybel. Vervolgens sal die skeppingsverhaal bespreek word aan die hand van die nuutste wetenskaplike feite. Baie van hierdie sake is dan ook reeds in die vorige hoofstuk aangeraak, maar hier sal gepoog word om die verband tussen die Bybel die wetenskap aan te toon.

Die skeppingsdae van Genesis 1 en 2

Waar kom dan die algemene siening vandag vandaan dat die skeppingsdae as 24 uur dae gesien moet word?

John Lightfoot, van die Cambridge Universiteit, het in 1642, slegs 31 jaar na die verskyning van die King James vertaling, bereken dat die skepping plaasgevind het op 17 September 3928 v.C. 'n Paar jaar later het die Anglikaanse aardsbiskop van Ierland, James Ussher, hierdie datum aangepas na die 3de Oktober 4004 v.C. Hy het ook verder gegaan deur spesifieke datums vir elke historiese gebeurtenis van die Bybel neer te pen. Hiermee is die fondament gelê vir die "jong aarde teorie". So gewild was hierdie datums dat nuwer uitgawes van die King James vertaling van hierdie datums as kantaantekeninge of selfs as opskrifte gehad het. Omdat hierdie vertaling dié vertaling van die Engelsprekende Protestante geword het en hulle verder die hoofgroep geword het om die protestantisme wêreldwyd te versprei, het hierdie kantaantekeninge algemeen aanvaarde feite vir die meeste christene geword.

Ussher en Lightfoot se berekeninge het berus op twee veronderstellings:

Dat geen generasies oorgeslaan is in die geslagsregisters nie en

dat die Genesisskeppingsverhaal berus op opeenvolgende 24 uur dae.

Reeds vroeg in die 17de eeu moes daar al alarm gemaak gewees het oor hierdie siening. Die verspreiding van die christendom het bv. teenkanting gekry in China, waar hul eie geskiedenis verder as 4000 jr v.C. terug dateer. Hierdie probleem het egter min aandag getrek in Europa en Amerika.

Insiggewend is dit om te weet dat baie van die vroeë christene en bybelstudente die skeppingsdae van Genesis 1 as lang periodes beskou het. Hierdie lys van mense is o.a. die Joodse geskiedkundige Josephus (1ste eeu n.C.), Irenaeus (biskop van Lyons en martelaar van die 2de eeu n.C.), Origen (wat die christelike leer teen heidene verdedig het in die 3de eeu), Basil (4 eeu n.C.), Augustines (5de eeu n.C.) en Aquinas (13de eeu n.C.). (Ross, 1989 : 141)

Die belangrikheid van hierdie mense se standpunte lê in die feit dat ons hulle nie van vooroordeel kan beskuldig as sou hulle deur die sekulêre en wetenskaplike sieninge van vandag beïnvloed gewees het nie.

Met die ontwikkeling van die wetenskap en veral uit Newton se sterrekundige wette was dit duidelik dat baie van die sterrekundige stelsels ouer is as wat Ussher hulle dit aangegee het. Die berekeninge om die ouderdom van sulke stelsels te bepaal is baie omslagtig en dit het meer as twee honderd jaar geneem voordat die volle implikasie daarvan besef is.

Skielik het die wetenskap die christendom gekonfronteer met die feit dat die heelal ouer as 6000 jaar is. Die christendom se reaksie hierop was hoofsaaklik in twee kampe verdeel.

Die "fundamenteliste" het met hul standpunt volhard en het probeer om ander verduidelikings te kry waarom daar verskille is. Een so 'n standpunt is dat die aarde deur God geskep is met 'n oënskynlike ouderdom van meer as wat die skeppingsverhaal van getuig. Hierdie mense het wel baie gedoen om interne verskille tussen Gen 1 en 2 uit te haal, maar basies het hul gefouteer deur nie die basiese aannames van Ussher se uitleg van die skeppingsverhaal te bevraagteken nie. Die ongelukkige gevolg van die uitgesprokenheid van die fundamenteliste is dat die meeste mense vandag aanvaar dat elkeen wat in God glo ook die stellings van 'n "jong" aarde onderskryf. Weens die oorweldigende getuienis teen 'n jong aarde het baie mense die Bybel verwerp sonder om eers die ware boodskap van die Bybel te probeer navors.

'n Tweede groep het weer aangedui dat die Ou Testament nie geloofwaardig is nie. Jean Asruc het hierdie stelling reeds in 1753 gedoen. Nie lank daarna het Johann Eichhorn, 'n bekende teoloog van sy dag, met baie van sy Duitse kollegas, beweer dat die Ou Testament ontstaan het uit laat, onbetroubare dokumente van ongeveer 800 tot 500 v.C. Hul siening was dat die skeppingsverhaal bestaan het uit oorgelewerde mites. Hieruit het die "hoër kritici" die siening ontwikkel dat die Bybel onbetroubaar is -nie net intern nie - maar ook ten opsigte van die wetenskap en geskiedenis. Vir hul het God slegs sigbaar geword deur die kanaal van die "geloof". Die "geloof" was dus totaal subjektief en het bestaan uit 'n morele reaksie, aangespoor deur die gewete, en 'n warm gevoel rondom die teenwoordigheid van God.

Hierdie twee strominge staan vandag nog net so sterk. Die meeste christene voel aan dat beide van hierdie standpunte te radikaal is en 'n baie algemene siening vandag is dat "Die Bybel wil nie 'n weergawe gee van die proses waarvolgens die wêreld ontstaan het nie. Nog minder is dit 'n geskiedenisboek oor die ontstaan en wording van die mensheid". (Die Bybel in praktyk, 1993 : 7) Hiermee word daar erken dat die Bybel vol foute is, maar word daar geredeneer dat dit nie die bedoeling van die Bybel is om alles korrek weer te gee nie. Die boodskap van die Bybel is belangriker as die feitelike gegewens waarom dit gebou is.

Dit kom voor asof mense liewer die probleem van die korrektheid van die Bybel wil ignoreer om "twisvrae" te voorkom. Die stellings van die Nederlandse geloofbelydenis van

"Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van 'n mens gestuur of voorgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek" (Die Nederlandse geloofsbelydenis Art. 3) en

"Ons mag ook geen ander geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie" (Die Nederlandse geloofsbelydenis art. 7)

word surgvuldig vermy. Die wonderlike en bonatuurlike ooreenkomste tussen die Bybel en die nuutste wetenskaplike bevindinge van die laaste dekade of twee is soos 'n sorgvuldig bewaarde geheim waarvan baie min nog kennis van geneem het!

In Ps 19 staan die volgende woorde:

"Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend."

"Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe." (Ps 19:2,8)

Rom 1:19 20 herhaal dieselfde gedagte.

"Wat 'n mens van God kan weet was binne hulle bereik gebring. Van die skepping van die wêreld af kan 'n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat 'n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie..."

Uit die Skrif is dit duidelik dat God homself en sy evangelie deur die skepping en deur sy Woord aan ons openbaar. God kan nie lieg nie (Titus 1:2)   dit sou heeltemal teenstrydig wees met Sy heilige aard. Die Bybel verklaar dat God die heelal geskep het:

"Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie 'n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie." (Joh 1:3)

Verder verklaar die Bybel dat God self verantwoordelik is vir die woorde van die Skrif:

"Die hele Skrif is deur God geïnspireer ..." (II Tim 3:16)

Op hierdie basis kan daar dus geen verskille of weersprekende getuienisse tussen die Skrif en die natuur wees nie. Enige klaarblyklike weersprekinge moet dus stem uit ons menslike waninterpretasie van die feite. (Ross, 1991 : 145)

In die lig van lg. blyk dit dus dat die fundamenteliste die Bybel as absoluut waar erken maar die natuurbewyse wat daarmee in stryd is verwerp. Die ander groep erken God se gesag, die natuurbewyse, maar verwerp weer die absolute gesag van die Bybel. Beide van hierdie groepe kom dus die Skrif te na deur nie te aanvaar dat God Hom deur sy skepping én sy Skrif aan ons openbaar nie.

Die vraag is dus: Staan die Skrif en die wetenskap  of natuurgetuienisse teenoor mekaar? Weerspreek die twee mekaar wel in so 'n mate dat daar geen plek vir die een of die ander is nie?

Is hierdie saak net 'n "twisvraag" of is dit van kardinale belang vir ons geloof in Christus Jesus en sy beloftes aan ons én vir die uitdra van die evangelie? Hoeveel sendingaksies het nie al te gronde gegaan omdat die kerk van Jesus Christus nie bevredigende antwoorde op die vrae het nie!

Martin Luther se hele optrede met die hervorming was geskoei op die gedagte dat die Bybel homself moet verklaar en kan uitlê. Luther se woorde, "dat die Skrif in homself heeltemal seker, heeltemal maklik verstaanbaar, heeltemal oop en sy eie uitlegger is, wat alles aan alles toets, rig en duidelik maak", maak ook 'n appél op ons. (Pont, 1984 : 85)

Met Luther se oortuigings as grondslag kan ons, met 'n onbevange gemoed, gaan kyk wat die Bybel self sê oor hierdie sake. Daar sal hoofsaaklik gelet word op die skeppingsverhaal. Baie is al daaroor geskryf en ieder en elk het sterk standpunte oor die verklaring van die skeppingsverhaal of verhale.

Galileo se uitgangspunt van hoe ons na die Skrif kan kyk om dit te interpreteer, sal gebruik word.

Die Bybelse basis vir lang skeppingsdae

Die eerste hoofstuk van Genesis vertel dat die aarde "woes" en "leeg" was en dat God dit in ses "dae" omskep het in die aarde soos ons dit vandag ken.

Die woord "dae" staan in die middel van die kontroversie. In antwoord op die vraag of dit in konflik is met die wetenskap al dan nie, moet daar uitgemaak word of die periode van 'n "dag" 'n tydperk van 24 uur aandui, en of dit in die orde van miljoene jare kan wees. Om dit te kan doen behoort die interpretasie van die skeppingsdag, die definisie van die oorspronklike woord, die konteks waarin dit gebruik is, die grammatika en die relevante gedeeltes in die res van die Skrif in ag geneem te word. 'n Analise van al hierdie elemente bring egter genoeg getuienis na vore dat die dag van Genesis 1 as lang tydperke gesien kan word. Hier is sommige van die feite. (Ross, 1991, p146 155)

1. 'n Lang skeppingsperiode is in pas met die definisie van yowm, ereb en boqer.

Die Hebreeuse woord "yowm" mag vir enige van die volgende periodes gebruik word:

Van sonsopkoms tot sonsondergang,

van sonsondergang tot sonsondergang,

'n segment van tyd sonder enige verwysing na gewone dae (gewoonlik 'n aantal jare) en

'n tydperk of epog.

Die woord "'ereb" beteken "aand" of ook "sonsondergang", "nag" of "die einde van 'n dag". "Boqer" kan weer vertaal word as "oggend", "sonsopkoms", "die koms van die lig" of oggendskemer met moontlike metaforiese gebruike.

Dit is duidelik dat daar geen probleem sou wees indien die vertaling eerder "tydperk" as "dag" sou gewees het nie.

2. Genesis 1 pas in die vorm en ook funksie van 'n Bybelse kronologie.

Met die studie van ander kronologiese gedeeltes in die Bybel waar gebeurtenisse mekaar opvolg is beide die tyd orde onderskeibaar en tyd orde belangrik. Dit is belangrikheid om die ordelike ontvouing van God se plan te toon, terwyl die onderskeibaarheid nodig is om die geldigheid van die segsman se boodskap aan te toon. Daniël 9:24 27, (die herbou van Jerusalem, die Messias se koms en dood, die verwoesting van Jerusalem, jare van verlatenheid, die herstel van die offer, abomination en dan die einde); Daniël 11:2 45 ('n Kronologie van die oorwinnings en neerlae van verskeie konings en koninkryke); en Openbaringe 8 en 9 is voorbeelde hiervan. Die plae van Egipte was ook duidelik onderskeibaar en elkeen van die plae moes vir die farao oortuig dat die Here in beheer was van al wat lewe. (Eksodus 7 12)

In die geval van die skeppingsdae is die lang periodes waarin verskillende lewende wesens geskep is, inderdaad onderskeibaar en is dit wel belangrik om die gesag van die skrywer n.a.v. van die bonatuurlike akkuraatheid te beklemtoon. Indien die skepping in slegs 6 dae voltooi was sou selfs vandag se mees komplekse meetinstrumente nie in staat wees om die opeenvolgende gebeurtenisse van mekaar te onderskei nie. Wat sou dan die doel van die vermelding van die verskillende "dae" wees?

3. Die sewende dag van Genesis 1 is nog nie afgesluit nie.

Van die eerste ses dae van die skeppingsverhaal word daar gesê: "Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die soveelste dag." Elkeen van daardie dae het dus 'n begin en 'n einde gehad. Vir die sewende dag word daar egter geen einde aangetoon nie - nie in Genesis 1 of 2 nie en ook nêrens anders in die Bybel nie. Inteendeel, in Ps 95 en Hebr 4 word daarna verwys as sou dit nou nog steeds die sewende dag van God wees.

"En God het op die sewende dag gerus van sy werk, ... maar vir sommige bly die moontlikheid bestaan om in sy rus in te gaan... Daar wag dus steeds 'n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan..." (Hebr 4:4 11)

Ons kan dus aflei dat op die kortste, God se sewende dag ten minste 'n paar duisend jaar is, met 'n maksimum wat nog nie bepaal is nie.

Die fossielrekords bevestig ook bg. feite. Dit is duidelik dat daar gedurig nuwe lewe te voorskyn gekom het voordat die mens geskep is. Deur die jare was die aantal nuwe spesies steeds meer as dié wat uitgesterf het. Toe die mens egter op die toneel verskyn het, het die prentjie heeltemal verander. Die huidige skattings van spesies wat uitsterf wissel van 1 per dag tot soveel as 5 per uur. Aan die ander kant is daar nog nie een spesie in mensegeskiedenis gedokumenteer wat ontwikkel of geskep is nie. Selfs die voorstanders van die evolusieleer kon nog nie enige evolusionêre ontwikkeling in enige spesie deur waarneming aantoon nie.

Die skeppingsverhaal van die Bybel bied egter vir ons die antwoord: Vir ses dae het God nuwe lewensvorme geskep maar na die skepping van Adam en Eva rus Hy van sy skeppingswerk en hierdie rus duur tot vandag nog.

4. Die ongewone sintaks in die gebruik van die spesifieke skeppingsdae dui op ongedefinieerde tydperke.

Die ongewone manier waarop daar aangedui word dat daar 'n volgende skeppingsdag is, is opvallend. "Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die soveelste dag." Hoekom het daar nie net gestaan: "en dit was die aand en die môre van die dag nie"? Hierdie manier om dit te stel kan nie gebruik word as 'n bewys nie, maar laat tog 'n suggestie dat dit 'n aanduiding van 'n spesifieke fase is wat verby gegaan het.

5. Die gebeure van die sesde dag dek meer as 24 uur.

Genesis 1 vertel ons dat die soogdiere en beide Adam en Eva op die sesde dag geskep is. Genesis 2 gaan dieper op die saak in deur meer in detail uit te brei oor wat gebeur het vanaf Adam se skepping tot en met Eva s'n.

God het eers 'n tuin in Eden geplant deur "allerlei bome, mooi om na te kyk en lekker om van te eet, uit die grond te laat uitspruit," (Gen 2:9) God het Adam beveel om die tuin te bewerk en daarna moes Adam name aan al die wilde diere en voëls gee. In die proses het Adam agter gekom dat daar vir hom as mens geen gelyke helper was nie. In antwoord hierop het God vir Eva geskep. Adam se reaksie op Eva se voorstelling was "happa'am" wat gewoonlik vertaal word met "Dit is nou eindelik been van my gebeente" (ou vertaling) of in Engels "now at length" of "at last". Hierna het God hulle hul opdrag gegee om vrugbaar te wees, om die aarde te bewoon en te bewerk en om oor die aarde en die skepsels daarvan te heers. Ook het God vir hul die plante en die diere op die aarde en in die lug gegee as kos om van te leef. (Gen 1:29,30) In hierdie tyd kon daar weke, maande of selfs jare verby gegaan het voordat die sesde dag finaal verby was.

Voorstanders van die 24 uur skeppingsdag, redeneer dat Adam weens sy sondelose toestand teen bo-menslike spoed kon werk om al die take gedoen te kry binne een dag. Hierdie argument neem egter nie die volgende in ag nie:

Adam se reaksie op Eva se bekendstelling   "eindelik"

Daar bestaan geen Bybelse basis om te vermoed dat Adam teen bo menslike spoed voor die sondeval kon werk nie.

Selfs 'n groter intellek sou nie sy take en wedervaringe van die sesde dag wesentlik kon beïnvloed nie.

In sy sondelose toestand sou Adam tog net soveel meer noukeurig gewees het om God se opdragte korrek uit te voer.

Jesus, al was hy sondeloos, het nie sy take teen bo menslike spoed uitgevoer nie.

6. Die bewoording van Genesis 2:4 suggereer 'n lang tydperk vir die skeppings "week".

Letterlik staan daar in die Hebreeus vir Genesis 2:4, wat 'n opsomming van die skepping is, "Dit is die generasies van die hemel en die aarde in die dag van hul skepping". Die nuwe Afrikaanse vertaling stel dit as "die geskiedenis" van die hemel en die aarde. Die woord "dag" verwys hier na al ses die skeppingsdae en die gebeure voor die eerste skeppingsdag. Klaarblyklik verwys hierdie "generasies" dus na 'n tydperk langer as net 'n week in ons terme. In Hebreeus verwys een generasie na die tyd van 'n kind se geboorte tot hy self 'n ouer is, of enige tydperk langer as dit. Die feit dat hier na "generasies" verwys word dui dus op 'n tydperk van vele generasies.

7. Om die ewigheid van God te beskryf vergelyk die bybelskrywers dit met die ouderdom van die berge en die "fondamente van die aarde.

Die beelde wat in Ps 90:2 6, Spreuke 8:22 31, Prediker 1:3 11 en Miga 6:2 toon God se onbeskryfbare antieke teenwoordigheid en planne. Habakuk 3:6 verklaar bv. die berge as eeue oud en die ou ou heuwels en toon tog daarmee dat die aarde baie ouer is as ons mensegeskiedenis. II Petrus 3:5 verklaar ook dat die hemel en die aarde al lank gelede bestaan het.

8. God se doel met die geskrewe Woord is om sy waarheid en sy wil aan die mens bekend te maak.

"Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al U regverdige verordening is tot in ewigheid". (Ps 119:160 ou vert.)

"Wat Ek die Here sê bring redding, my woorde gee lewe" (Jes 45:19),

"en God wat nie kan lieg nie..." (Titus 1:2 ou vert.),

"Die twee dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen." (Hebr 6:18) en

"Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek beloon." (Hebr 11:6).

Die implikasie van bg. is tog duidelik   God sou tog nie die wêreld met 'n oënskynlike hoë ouderdom geskep het en so aan sy eie aard ontrou geword het nie! Ons kan nie die feite van die wetenskap rakende die sterrekunde, fisika, geologie ligtelik opneem nie.

9. Die Bybel bevestig dat God se bestaan, sy handewerk, sy krag en sy Goddelike natuur openbaar.

Soos reeds getoon uit Ps 19 en Rom 1:20 is die skepping alleen alreeds genoeg getuienis dat God bestaan, dat Hy alles geskep het, dat Hy ons lief het en wil beskerm en bewaar. Ons moet dus hieruit aflei dat 'n eerlike wetenskaplike studie moet lei tot die ontdekking van waarhede omtrent God en sy andersins ongesiene eienskappe.

10. Die Bybelskrywers se steliing aangaande die omvang van die heelal is ook 'n aanduiding van die ouderdom daarvan.

In Gen 22:17, Jer 33:22 en Heb 11:12 word die aantal kinders van God vergelyk met die sterre en met die sand van die see. Die Hebreeuse en Griekse telwyses kon getalle op tot biljarde (1000 miljoen) akkommodeer. Ontelbaar sou dus 'n getal ten minste een orde groter as 'n biljard aandui. Sou ons dit aanvaar as die aantal sterre in die hemel en met 'n gemiddelde afstand tussen sterre van 4 ligjare beteken dit dat die deursnit van die heelal ten minste 20 000 ligjaar moet wees. Omdat geen stof of materie vinniger as die spoed van lig kan beweeg nie moet die heelal ten minste 20 000 jaar oud wees.

(Terloops, daar is ongeveer net soveel sandkorrels op ons strande as wat daar volgens die nuutste berekeninge sterre is!)

11. Die Sabbatdag vir die mens, sowel as die Sabbatsjaar het as grondslag God se werkweek.

Die vierde gebod bepaal dat die sewende dag van die week ge-eer moet word as heilig omdat

"Op die sewende dag het Hy gerus" (Ex 20:10,11).

In Levietikus kry ons ook die gebod vir die Sabbatsjaar.

"Maar in die sewende jaar moet die hele land 'n rustyd hê, 'n sabbatsjaar tot eer van die Here." (Lev 25:4)

Die beginsel wat dus hier geld is die een uit sewe, ongeag of dit dae of jare is en nie noodwendig 'n sewende dag nie.

12. Die dood wat deur die sonde tot die mens gekom het beperk nie die skeppingsdae nie.

"Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het." (Rom 5:12)

Sommige interpreteer dit as sou daar nie 'n dood van enige aard voor die sondeval gewees het nie en daarom kon die skepping dus nie langer as 'n paar dae geneem het nie. Die afwesigheid van die fisiese dood bring egter net soveel probleme vir drie, 24 uur, dae as wat dit sou wees vir drie miljard dae. Baie spesies kan nie eers drie uur oorleef sonder voedsel nie, en deurdat voedsel op 'n manier tog verorber moes wees beteken ten minste dat sekere plante of plantedele moes gesterf het.

Ander verklaar weer Romeine 5 as sou dit dui op 'n sielsdood. In Genesis word daar 'n duidelike onderskeid gemaak tussen al die diere en die mens "as beeld van God". Van al die skepsels van God erf net die mens die titel van "sondaar". Tog is die hele "aarde deur jou toedoen vervloek" (Gen 3:17)

Die kern van Rom 5:12 is egter dat dit daar nie gaan oor die fisiese of die siele dood nie, maar oor die geestelike dood van die mens. God se opdrag aan Adam was duidelik:

"Die dag as jy daarvan eet, sterf jy." (Gen 2:16)

Adam hét onmiddelik gesterf, al het hy na liggaan en siel nog gelewe, maar hy was afgesny van God, hy het God nou van nature gehaat en hy is verhinder om by die boom van die lewe uit te kom (Gen 3:24).

13. Die onderwerping van die skepping aan die verganklikheid beperk nie die lengte van die skeppingsdae nie.

"Want die skepping is aan nietigheid onderworpe, nie gewillig nie, maar ter wille van Hom wat dit onderwerp het, in die hoop dat die skepping self ook vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die kinders van God." (Rom 8:20,21 ou vert.) Vir sommige beteken hierdié dat Adam se sonde die fisiese dood, natuurlike agteruitgang of aftakeling en 'n verhoging in entropie gebring het. Verwering en die dood het dus nie voorgekom tot met die sondeval nie. Met kort skeppingsdae sou daar dus ook geen noemenswaardige verweer, aftakeling of veroudering kon gewees het nie.

Dit kan verstaan word as daar gesê word dat aftakeling wel sou plaas vind deur biljarde jare, maar dit is ewe waar dat sonder aftakeling géén werk moontlik is nie, selfs nie vir 24 uur nie. Sonder werk is enige lewe onmoontlik. (Vir die son en sterre om te kan brand moet daar werk moontlik wees en die energie daarvan kon weer lewe gee aan die plante op die aarde.) Dus Rom 8:20,21 kan nie 'n aanduiding wees dat dat die proses van aftakeling eers met die sondeval begin het nie.

Dit is egter net so moontlik dat hier verwys word na 'n ander tipe van aftakeling nl. die ordeloosheid wat ingetree het a.g.v. die mens se rebellie teen God en sy gebod. In Gen 1:28 word die opdrag aan die mens gegee om die aarde te bewerk. Omdat die mens egter gerebelleer het, het presies die teenoorgestelde gebeur. 'n Mens kan dit amper vergelyk met iemand wat sy twee jarige kind stuur om sy kamer en kaste te gaan regpak! So moet die mens eers sy probleem met die sonde oorwin, voordat hy in staat sal wees om hierdie bevel van God na te kom.

Die skeppingsverhaal

1. 'n Wetenskaplike metode van ondersoek.

Om enige teks te kan ontleed behoort daar van 'n wetenskaplike metode gebruik gemaak te word. Astruc, Eichhorn en van die ander "hoër kritici" het nie van bekende metodes, soos wat deur die navorsers van die renaissance ontwikkel is, gebruik gemaak toe hulle hul kritiek op die Bybel uitgespreek het nie. Kortliks bestaan enige wetenskaplike ondersoek uit 'n stelling vanuit watter perspektief 'n saak beskou word (of die vasstelling van die verwysingsraamwerk), 'n vasstelling van die begintoestande, 'n kronologies weergawe van die fisiese gebeure en laastens 'n konklusie van die gegewe feite.

Die hoër kritici van die Bybel het nie hierdie metode gebruik nie. Hul het eenvoudig aanvaar dat die orde van die gebeure in die teks die bedoelde orde was en is ook min aandag aan die tye van die werkwoorde gegee. Terloopse verwysings, indikators en ander sintaktiese eienskappe is ook geïgnoreer.

2. Die integrering van Genesis 1 en 2

Die gebeure in Genesis 1 verskil duidelik van dié van Genesis 2. Word daar gekyk na die verwysingsraamwerk van die teks is dit duidelik dat Genesis 1 fokus op die fisiese gebeure van die skepping, terwyl Genesis 2 konsentreer op die geestelike gebeure. Genesis 1 vertel hoe God die aarde voorberei het vir die mens. Genesis 2 vertel hoe God gesag en verantwoordelikheid aan die mens toegeken het.

In Gen 2:4 25 word die skepping van die mens in meer besonderhede beskryf. Die gedeelte word ingelui deur

"Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde" (Gen 2:4).

Hierdie tipe uitdrukking is dikwels gebruik as 'n opskrif vir 'n nuwe gedeelte. Vergelyk bv.

"Dit is die geskiedenis van Noag" (Gen 6:9),

"En dit is die stamboom van die seuns van Noag" (Gen 10:1) en

"Dit is die stamboom van Sem" Gen (11:10).

Genesis 2:4 slaan ook duidelik terug na Gen 1:1,2 en dit behoort dus as 'n onderopskrif vir Gen 1:1,2 gesien te word. (Die Bybel met verklarende aantekeninge, 1958 : Deel I p 6)

Wat hier tog anders is as in Genesis 1, is die feit dat hier na God verwys word as "Jehova Elohim", wat vertaal word as "Die HERE God" (ou vert.), terwyl in die eerste verhaal slegs die woord "Elohim" gebruik is. In Gen 1 word na God verwys as die "God van krag", terwyl in Gen 2:4 na Hom verwys word as die "God van krag en voleinding". "Jehova" is die groot en onkommunikeerbare naam van God waarin Hy Homself openbaar as "Ek is wat Ek is" (Ex 3:14) en as die God wat alle dinge hul bestaansreg gee. (Matthew Henry, Geredigeerde weergawe, 1974 : 5) Hierdeur wil die Bybel vir ons aantoon dat, hoewel die skeppingsverhaal hier weer aangebied word, daar tog 'n verdere openbaring van God se mag is. In Gen 1 het God die opdrag gegee:

"bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, ...". (Gen 1:28)

In die tweede verhaal kom God self tot die mens se hulp om sy opdrag uit te voer.

"Die HERE God het toe 'n tuin in Eden in die ooste aangelê en die mens wat Hy gevorm het, daar laat woon." (Gen 2:8)

"Die HERE God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas" (Gen 2:15).

"En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens hulle genoem het, so moes hulle naam wees. (Gen 2:19 ou vert)

God laat Adam nie aan sy eie lot oor om sy taak uit te voer nie, maar Hy tree aktief in om hom daarmee te help.

Die tyd wat gebruik word in Hebreeus vir "geformeer" is die verlede tyd m.a.w. dit was voltooid. Hier is geensins rede om te lees dat die mens voor die diere geskep was nie. Genesis 1 het tog klaar die volgorde aangetoon, terwyl die klem hier val op 'n hulp vir die mens (Gen 2:18). God het geweet het dat daar nie onder die diere vir die mens 'n hulp sou wees nie, maar Hy gee tog vir Adam die opdrag om vir al die diere name te gee en sodoende self agter te kom:

"maar vir homself het hy nie 'n helper, 'n gelyke, gekry nie" (Gen 2:20).

God het dus, in Sy wonderlike almag, sy skepping doelbewus nog nie voltooi sodat Adam self getuie kon wees dat dit God is wat skep en dat alles nie sommer vanself gebeur het nie. Sou Adam en Eva saam geskep gewees het, sou hulle slegs God se woord gehad het dat Hy hulle geskep het. Deur God se plan kon hulle self ervaar dat Hy hulle Skepper is.

3. Die oorsprong van die heelal

Die Bybel begin met die woorde: "In die begin het God die hemel en die aarde geskep" (Gen 1:1). Die Hebreeus vir hemel en aarde is "shamayin" en "erets" wat, wanneer dit saam gebruik word, verwys die die totale fisiese heelal. Die Hebreeus vir skep is hier "bara" wat beteken om iets uit niks voort te bring. Hierdie vers vertel vir ons dat God al die basiese boustene (die ruimte, tyd, materie, energie, galaksies of melkweë, sterre, planete ens.) van die heelal uit niks geskep het.

4. Die spesifieke verwysingsraamwerk van die skeppingsverhaal

Ongelukkig fouteer die meeste bybelkommentators saam met Jean Astruc en die ander hoër kritici deur die beskouingspunt vir Genesis 1 buite in die ruimte te plaas en dan daarvan af te kyk na die aarde. Die tweede vers van Genesis plaas egter ondubbelsinnig die beskouingspunt onder die wolkkombers op die oppervlakte van die waters.

"Maar die Gees van God het oor die waters gesweef" (Gen 1:2).

Hierdie oënskynlike nietige puntjie verwyder talle struikelblokke tussen die Bybelse volgorde van gebeure en dié van die wetenskap. Die wonderwerke wat plaasvind word beskryf asof iemand op die aarde en onder die atmosfeer van die aarde is en nie in die buitenste ruimte nie! Dit is byna vanselfsprekend dat die verhaal vanuit hierdie gesigspunt vertel sou word aangesien dit maar in die laaste paar eeue is dat die mens 'n meer volledige beeld van die heelal het.

'n Mens sou verwag dat dit vir die moderne mens maklik sou wees om ook hierdie gesigspunt te verstaan, maar dit wil voorkom asof dit nie die geval is nie. Almal, wanneer daar oor die skepping van die aarde gepraat word, sien dit soos die sattelietfoto's wat die weerspatrone vir ons op televisie weergee.

5. Die begintoestande

Gen 1:2 gee vir ons nog die volgende inligting aangaande die begintoestande op die aarde.

 "Dit was donker op die diep waters"

 Die aarde was "woes" (ou vert.)

 Die aarde was "leeg" (ou vert.)

Aangesien Genesis 1 konsentreer op die skepping van lewe op die aarde kan ons ook hierdie "woes" en "leeg" in terme van die lewe op die aarde interpreteer. Die aarde was dus in die begin, heeltemal ongeskik om lewe van enige aard te kon huisves - letterlik leeg van enige lewe. Daar word ook vertel dat die aarde donker was.

Sterrekundige gegewens dui daarop dat die aarde in die begin 'n atmosfeer met groot hoeveelhede koolstofdioksied, stikstof en waterdamp met heelwat inter planetêre afval en ook stof a.g.v. die baie vulkaniese aktiwiteite gehad het waardeur lig nie kon dring nie(Seeds, 1985 : 352, 357). In hierdie omstandighede kon geen lewe bestaan nie.

6. Die volgorde van die skeppende gebeure.

Noudat die verwysingsraamwerk gevestig is en die begintoestande beskryf is kan daar na die volgorde van die skeppingsgebeure gekyk word. Wat eers onverstaanbaar was sal nou blyk logies en duidelik korrek te wees.

Ons moet ook daarop let dat hier van ses verskillende werkwoorde gebruik gemaak word om die skeppingsverhaal te lees. "Bara" word na Gen 1:1 slegs nog twee keer gebruik nl. in die skepping van "nephesh" (siellose diere met 'n verstand, wil, emosies soos voëls en soogdiere) en "adam" die skepsel wat toevertrou is met die eienskap om self te kan reageer teenoor God as sy Skepper. Die onderstaande tabel gee die volgorde van die skepping soos vervat in die Bybel én die wetenskap.

Die Bybel Die wetenskap
In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis... en die Gees van God het gesweef op die waters (Gen 1:1,2) Heelal (oerknal): +-13milard jr. gelede. Son: +-5miljard jr. gelede en die aarde: +-4,5miljard jr. gelede. Aarde se atmosfeer was donker en ondeursigtig.
Dag 1: "Laat daar lig wees" (Dag en nag) Atmosfeer verander van heeltemal donker na ligdeurlaatbaar / deurskynend. Dag en nag kon deur die wolke gesien word.
Dag 2: "God het die gewelf gemaak en die waters onder die gewelf geskei van die waters bo die gewelf." Stabiele watersiklus ontwikkel.

See en kontinente word gevorm.

Dag 3: "Laat daar uit die aarde groenigheid kom" Plante verskyn. Fotosintese begin.
Dag 4: "Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om die dag en nag te skei." (Son, maan en sterre) Atmosfeer nou deursigtig. Weens die fotosintese van die plante was die atmosfeer vir die eerste keer skoon genoeg sodat die son, maan en sterre duidelik gesien kon word.
Dag 5: "Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg" Visse en voëls verskyn op die toneel
Dag 6: "Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard." (Diere)

"Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger"

Nog diere, veral warmbloedig, verskyn op die toneel.

Die mens kom ook op die toneel (heel laaste)

Deur die beskouingspunt of perspektief van die skrywer (en leser) te verander is alles nou skielik verstaanbaar en val alles in plek. Vir 'n waarnemer op die aarde sou sy eerste gewaarwording van die son die flou lig wees wat deur die mis van die wolke sou geskyn het. Hy sou nie in staat gewees het om die son of die sterre te kon sien nie.

Die aarde sou later genoeg afgekoel het om 'n stabiele watersiklus tot gevolg te kon hê. Terselfdertyd is die kontinente gevorm. Daar was sonlig (alhoewel die son self nog nie gesien kon word nie), water en grond beskikbaar. Nou kon plante op die aarde uitspruit.

Deur die fotosintese van die plante is die atmosfeer stadigaan gesuiwer totdat dit mettertyd moontlik was om die son, maan en te sterre te kon sien. Hoe merkwaardig dat die wetenskaplike bevindinge en die Bybel so absoluut met mekaar ooreenstem!

God het nie die verhaal opgeskrywe as 'n handboek vir 'n wetenskaplike nie. Nee, dit is in 'n liedvorm geskryf sodat die kleinste kind dit kon leer, memoriseer en verstaan. Tog in die verhaal se eenvoud lê sy skoonheid en staan sy akkuraatheid uit wat 'n mens verstom! Die begintoestande van die heelal en die aarde is akkuraat beskryf. Die volgorde van die gebeure op die aarde is korrek en laastens word die mens, as die kroon van God se skepping, ook korrek aangedui as die een wat laaste gekom het. Dit kan net nie toevallig wees nie!

Die verskyning van die moderne mens

Volgens Genesis 1 het die skepping van die heelal die skepping van die mens voorafgegaan en het Adam en Eva eers teen die heel einde van die skepping op die toneel verskyn. Bybelse geslagsregisters kan 'n aanduiding gee van wanneer die mens verskyn het. Dit moet egter in gedagte gehou word dat dit maar 'n baie losse meetinstrument is. Die probleem is dat die woorde " 'ab" en "ben" in Hebreeus vir vader en seun, net sowel gebruik is vir oupa, oupagrooitjie en groot groot oupagrooitjie, terwyl "ben" kan staan vir seun, kleinseun, agter kleinseun.

In Daniël 5:11 lees ons dat die koningin verwys na Nebukadnesar as Belsasar se vader (ou vert), terwyl ons uit die geskiedenis weet dat ten minste twee ander konings tussen hulle was en dat hulle dalk nie eers familie was nie. Dieselfde tendens sien ons ook in Matt 1 waar Jesus se geslagsregister aan Josef se kant vir ons gegee word. Vergelyk ons dit met 1 Kron 3 sien ons dat daar bv. tussen Jotam en Joram ten minste 3 geslagte uitgelaat is. Die geslagsregisters van 1 Kronieke was vrylik beskikbaar in Matteus se tyd, dus het hy dit nie uitgelaat omdat hy nie geweet het van hule nie, maar omdat hy gemeen het die persone was nie belangrik genoeg om opgeneem te word nie. Skattings oor die Bybelse datums vir die skepping van die mens wissel van 10 000 tot 30 000 v.C. (De Villiers, 1992)

In Gen 1:26 word daar na die mens "adham" en slegs na die mens verwys as na die beeld van God geskape. Hierdie punt word nadruklik herhaal in Gen 1:27. Soos die skeppingsverhaal verder ontvou is dit duidelik dat die mens van die res van die skepping verskil deurdat hy 'n lewende wese of siel (Gen 2:7) geword het. Die mens was die enigste skepsel wat in 'n persoonlike verhouding met God gestaan het. Hy alleen kon kommunikeer met sy Skepper.

"Die mens is 'n wese wat kan besluit wat hy is. Dit is 'n wese met die vermoë om tot die vlak van 'n dier te daal, maar ook om uit te styg tot 'n heilige lewe. Die mens is die wese wat die gaskamer uitgevind het én hy is die wese wat in daardie gaskamers in gestap het met die Onse Vader of 'n Joodse sterwensgebed op die lippe." (Frankl, 1982 : 39)

Getuienis oor die mens as lewende wese of siel sou dus insluit tekens van goddelike aanbidding soos godsdienstige handelinge, altare en tempels. Van 'n Bybelse perspektief sou tekens van versierings, begrawing van die dooies of die gebruik van gereedskap nie kwalifiseer as voldoende getuienis van 'n lewende siel nie. Ons weet ook dat sekere voëlsoorte hul neste versier, olifante soms hul dooies begrawe en sjimpansees en bobbejane gereedskap gebruik.

Argeologiese gegewens dui daarop dat groot, tweevoetige en grootbrein homonides so lank reeds as 1 miljoen jaar gelede bestaan het. Die eerste tekens van religieuse handelinge en altare dateer maar tot so onlangs as 8000 tot 24000 jaar terug. Die sekulêre antrapologiese datums vir die eerste geestelike wesens is dus in volkome harmonie met die Bybel.

Daar bestaan egter nog belangrike verskille tussen die Bybel en die sekulêre antropologie. Die Bybel ontken dat die homonides mense was en dat Adam direk van hul afgestam het. Tog kom daar selfs vanuit die antropologie ondersteuning vir hierdie sienswyse aangesien daar tekens is dat die homonides uitgesterf het voordat die mens op die toneel verskyn het of selfs a.g.v. die verskyning an die mens! Ten minste word die uiters skielike veranderinge vanaf die hominides tot die mens wyd erken. (Ross, 1989 : 159-160)

Weereens kan ons maar sê - geen toeval nie!

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde,

hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!

Kinders en suigelinge besing die magtige werk

wat U tot stand gebring het.

So word u teëstanders, die vyande en wraakgieriges tot swye gebring."

(Ps 8:2,3)

Argeologiese bewyse

Jean Asruc en Johann Eichhorn het reeds in die 18e eeu beweer dat die Bybel uit laat onbetroubare dokumente van ongeveer 800 v.C. tot 500 v.C. bestaan. (Ross, 1989 : 162) Ons het reeds bewys dat die skeppingsverhaal a.g.v. die ooreenstemming met die wetenskap nie net mites kan wees nie. Hierdie mense het ongelukkig ook te gou gepraat wat die geskiedkundige betroubaarheid van die Bybel betref.

Die argeologiese ontdekking het min of meer begin toe Paul Emile Botte in 1843 in Mesopotamië in Chorsabad afgekom het op reliëfbeelde van die Assiriese koning Sargon II, wat Israel en sy mense weggevoer het. Die verowering van Samaria word o.a. daarin beskryf. (Keller, 1982 : 10) Dit was egter 'n lang en moeisame pad. Geskiedkundige geskrifte moes ontsyfer word, brokstukkies moes een vir een ingepas word om sin te kon maak uit die groot legkaart. Maar dit wat na vore kom toon duidelik dat die Bybel waar is. Werner Keller skryf dan ook in sy voorwoord:

"Baie mense was en is die mening toegedaan dat die Bybel uitsluitlik heilsgeskiedenis is, die onderpand van die geloof van christene oor die hele wêreld. Dit is egter ook 'n kroniek van gebeurtenisse wat werklik plaasgevind het. Weliswaar is die Bybel onvolledig in dié sin dat slegs die Joodse volk en sy geskiedenis opgeteken het met die blik op Jahwe, en dus uit die perspektief van sy eie skuldige en sondige verhouding tot God. Maar al hierdie gebeurtenisse is histories juis en met verbluffende akkuraarheid geboekstaaf." (Keller, 1982 : 11)

Die opgrawings van stede, reunes, kleitablette, myne en baie ander losstaande artikels vertel almal net een verhaal: Die mileu wat die Bybel beskryf waarin die mense gelewe het, is korrek beskryf. Dit het ons baie meer begrip gegee vir die omstandighede waarin daardie mense gelewe het en hoekom sekere dinge gestel is soos dit gestel is. Om maar een voorbeeld te gee.

Die vraag was bv. altyd gevra: Hoekom het Dawid met die inname van Jerusalem vir sy manskappe gesê:

"Elkeen wat 'n Jebusiet wil verslaan, moet eers die watertonnel, ... in die hande kry." (II Sam 5:8)

Oos van Jerusalem, in die Kidron vallei, lê die Ain Sitti Marjam, die "fontein van die maagd Maria". In die Ou Testament het dit Gihon geheet. Hierdie was die vernaamste waterbron vir Jerusalem. 'n Mens stap met omtrent dertig treetjie af in 'n grot om by die fontein te kom. In 1867 het kapt. Warren in die grot 'n skag en gangetjie ontdek wat tot by die ou stadsmuur loop. Hierdie tonnel is waarskynlik al meer as 20 eeue v.C. gegrawe. Tydens 'n beleg van die stad kon die inwoners dan sodoende toegang tot die bron kry vir hulle watervoorraad. Dawid het dus op een of ander manier van die bestaan van hierdie tonnel bewus geraak en daarom kon hy dit gebruik om Jerusalem te verower. (Keller, 1982 : 154)

Die vraag is ook al gevra waarom daar so min geskrifte in Palestina gevind is? In Egipte is wavragte vol papirusrolle gevind, in Babilonië en Assirië hope spykerskriftablette. Die rede hiervoor is dat ongeveer 1000 jaar v.C. daar oorgeskakel is van die dik kleitablette en die hoekige spykerskrif na dun, gebrande kleitablette en ink. Die ink is ook op papirus gebruik. Ongelukkig is die koue en nat klimaat van Palestina glad nie geskik vir die veilige bewaring van die ink en papirusrolle nie en het daar baie min van behoue gebly. Die feit dat daar in Egipte soveel van hierdie rolle bewaar gebly het is net te danke aan die nabyheid van die woestyn en die droë klimaat. Die woestyn klimaat is dan ook die rede waarom die Dooie See geskrifte bewaar kon bly.

Ten spyte van al hierdie ontdekkings is daar ongelukkig nog steeds baie mense wat Asruc en Eichhorn se teorie glo. In die proses is die saadjie van twyfel oor die egtheid van die Bybel egter gesaai. Met dié twyfel in die hart kan so 'n mens dan ook baie moeilik die Bybel as die ontwyfelbare woord van God aanvaar en die beloftes daarin vervat hul eie maak.

Opsomming

Om die Bybel te kan verstaan, moet ons Galileo se waarskuwing ernstig opneem. Hy het reeds is sy tyd aangetoon dat die skrywer se verwysingsraamwerk deeglik in ag geneem moet word met die eksegese van enige stuk.

Vir ons vandag is dit baie moeilik om altyd die leefwêreld van mense wat duisende jare gelede geleef het, te verstaan. Tog het ons genoeg bewyse dat die Bybel, getrou aan die aard van God, nie vol historiese en wetenskaplike foute is nie. Ons kan dit wat daarin vir ons vertel is ten volle aanvaar as die geïnspireerde Woord van God (II Petr 1:21)

Aan die ander kant sal 'n mens egter nooit die Bybel as 'n wetenskaplike of geskiedenis handboek kan voorskryf nie. Dit is tog nie waarvoor dit geskryf is nie. Die Bybel is geskryf sodat

"julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê." (Joh 20:31)

God gee vir ons in sy Woord meer as genoeg bewys dat ons sy Woord ten volle kan aanvaar ter wille van die evangelie van Jesus Christus. Kom ons aanvaar die Skrif ten volle, sodat ook God se beloftes daarin vir ons eie kan word.