Matthys Maree (Thys)

Persoonlike webwerf

Bollemakiese van die NG Kerk se Algemene Sinode rakende selfdegeslagverhoudinge (Dokument in pdf)

2015-12-05

1.      Inleiding

Hoe het die NG Kerk se Algemene Sinode in net 8 jaar se tyd, van 2007 tot 2015, sulke totaal radikale uiteenlopende besluite geneem rakende selfdegeslagverhoudinge?  As na die motivering van 2007 se besluit gekyk word teenoor die motivering van 2015, is dit moeilik om te glo dat dit dieselfde kerk met dieselfde belydenis is.

Om die vraag te antwoord is daar gebruik gemaak van die kerkordes van 2007, 2013, die agendas,  aanvullende agenda en notules van die vergaderings tot 2015. Die gevolgtrekking wat ek maak is die volgende: 

 

2.      My siening van Skrifgesag en belydenisse:

Om die besluite van die sinode te beoordeel deel ek hier die beginsels waarop ek die beoordeling doen. Ek glo van harte ons belydenisskrif wat sê:

Artikel 7  (Nederlandse geloofsbelydenis)

DIE VOLKOMENHEID VAN DIE HEILIGE SKRIF

Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie - ja, al was dit ook 'n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal. 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut. 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps. 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: '...maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is' (1 Joh. 4: 1), en: 'As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie...'

 Wanneer ons die Skrif interpreteer behoort ons die volgende in ag neem: (Sien aanhangsel “Skrifinterpretasie” vir motivering van siening.)

a. Ons moet dit lees deur die oë van die skrywer. Wat was sy konteks, mileu en omstandighede?

b. Die Bybel is nie ’n geskiendenis – of wetenskap handboek nie. Maar tog bevat dit ook geen historiese foute nie.

c. Die mens het in sy wese en aard van Adam se sondeval tot vandag toe niks verander nie.

d. Die beginsels in die Skrif neergelê is ewig en onveranderbaar.

e. Die Skrif is ten volle betroubaar sodat ek as mens, sou dit moontlik wees en ten spyte van my sondige aard, ’n rasionele besluit kan neem om vir Christus te volg.

 Waar pas belydenisskrifte in?

      Jesus het gesê “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.” (Joh. 14:6)

Soos ons met die lys afkom is dit duidelik dat daar elke keer iets verlore gaan. God is onveranderlik. Sy Woord is onveranderlik. Ons belydenisskrifte spel vir ons duidelik uit wat ons behoort te weet om salig te lewe en te sterwe. Daarom kan ons nie verander aan die Skrif of die belydenisse nie.

Tog is daar ruimte om die gebeure van die dag te intepreteer. Wat het die kerk te sê oor Hitler, die wêreldoorloë, apartheid, die Arabiese lente, oor armoede ens. Hierdie interprasies is nodig maar is altyd ondergeskik aan die Skrif en ons belydenisskrifte. Kom ons noem dit die teologie van die dag.

3.      Kerkorde (o.a. 2013)  se siening van die Skrif

Kyk ons na hierdie Kerkorde se riglyne vir die interpretasie van die Bybel dan flits daar gevaarligte. Ten diepste word die gesag van die Skrif in die praktyk nie meer erken nie. 

Ek gee die volgede redes vir die stelling:

a.  Die Bybel is “onverstaanbaar” vir die gewone christen op straat.

Ja, die kerkorde sê: “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk bely, as kerk wat in die Gereformeerde tradisie staan, dat die Bybel die Woord van God is en dat dit daarom:

1.1.1.1 gesag het oor ons hele lewe, ...;

1.1.1.2 betroubaar is, ...;

1.1.1.4 voldoende is,  ... (vergelyk NGB Artikel 7).

Daarom bely ons steeds gelowig dat dié waarheid bo alles is.”

 

Maar dan word daar onmiddellik vervolg met :

“...dit beteken nie:

dat die Bybel vereis dat ons ons denkvermoë, wat ’n gawe van God is, moet opoffer nie;

“...dat die hele Bybel so maklik is om te verstaan dat enige mens selfstandig en onmiddellik alles daarin kan begryp nie;”

en verder

1.1.3.5 “die dankbare, maar kritiese luister na die manier waarop die Skrif in die geskiedenis van die kerk uitgelê is en in ons eie tyd deur medegelowiges in ons eie kerk en ander kerke uitgelê word;  ...”  

1.1.3.7 “en veral ook in die daarstel van belydenisskrifte waarin die kerk streef om die hart van die Skrifboodskap duidelik te vertolk en gehoorsaam te aanvaar.

1.1.4 Hoewel die kerk in elke tyd anders mag oordeel oor die beste reëls en metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg, bly dit vir ons ’n basiese oortuiging dat die belydenis van die Skrif as Woord van God nooit teenoor verantwoordelike Skrifuitleg staan nie. Die belydenis roep ons juis op om onsself, in gemeenskap met mekaar en met al die gawes wat God vir sy kerk gegee het, toe te lê op die soeke na die waarheid.

1.1.5  In die lig van hierdie belydenis glo ons dat God ook in die uitdagende tye waarin ons leef, sy kerk deur sy Woord en Gees in die waarheid sal lei. As Gereformeerdes verbind ons ons daartoe om, ook wat die komplekse leerstellinge en etiese kwessies van ons tyd betref, in hierdie oortuiging saam te soek na waarheid, geregtigheid en barmhartigheid. Ons glo dat hierdie soeke ’n ekumeniese strewe is, in verbondenheid met die kerk van alle eeue en die kerk dwarsoor die wêreld. Waar ons van mekaar verskil, glo ons dat ons in gesprek met mekaar moet bly, in die gebed dat God ons liefde al meer sal laat toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat ons die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom (Filippense 1:9-10”). (Kerkorde 20011, 1. Bybel  1.1  Skrifgebruik en Skrifgesag)

 

My kommentaar op die “voorwaardes” waaronder ons die Skrif moet lees is:

Noag sou nooit die ark gebou het as hy sy verstand gebruik het nie.  Abraham sou nie getrek het as hy sy verstand gebruik het nie en sou Moses sy verstand wou gebruik sou hy nooit dat Israel uit Egipte trek en sou hulle nooit deur die Rooisee droogvoets kon trek nie. So kan ons die voorbeelde van Hebreërs 11 een vir een opnoem.

Nikodemus kon nie glo toe hy sy verstand wou gebruik nie – “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is?” (Joh. 3:4)

Tomas wou ook nie glo sonder om sy rede te gebruik nie. Jesus was hom egter genadig het sê; “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

God is ons genadig en het vir ons baie bewyse gegee om te glo.

Maar dit is nog nie geloof nie.  Met Jesus se verskyning aan die Emmausgangers sien ons ’n belangrike beginsel: Na Jesus se gebed het hul oë oopgegaan. (Luk. 24:30) Eers na en deur die werking van die Gees van God kon hul oë (verstand, begrip) oopgaan. Eers toe kon hulle hul denke gebruik,  opstaan en vir die ander dissipels gaan vertel dat Jesus lewe! Eers na ons oë oopgegaan het, kan ons met ons rede/verstand besluit om te glo.  Sou ons terugkyk na die verlede gee God vir ons meer as genoeg bewyse dat ons Hom kan vertrou en aanvaar. Maar, die dag as ons besluit besluit om Hom te volg moet ons ook ons rede op die altaar plaas – hoe anders gaan ons weet daar is ’n hiernamels, ’n hemel en ’n hel. Dit is tog maar presies wat Hebrëers 11 sê “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (v1) Verder ”As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” (v6)

Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Daar staan tog geskrywe: ‘Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig, en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.’ “ (I Kor. 1:18,19)

Om op te som: God vra van ons om ons verstand op te offer. Is ons bereid om dit te doen, om in Hom te glo met ons hele hart en siel en verstand?  As ons Hom volg, seën hy ons met ’n baie dieper insig en ’n denke wyser as wat ons ooit kon gedink het.

Wat het van Jesus se woorde geword “By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.” (Luk. 10:21) en

“Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie” (I Kor. 1:20,21)

Tog is die studie van die Bybel nie verkeerd nie, inteendeel dit is nodig, maar dit is nie ’n voorwaarde vir geloof nie. “So is elke skrifgeleerde wat 'n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos 'n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.” (Matt. 13:52)

Gevolg van hierdie stellings is dat die NG kerk haarself oopgestel het vir die leëringe van ander kerke – selfs die Rooms-Katolieke kerk. In plaas van om leiding te gee, het die NG kerk nou ’n volgeling geword – ook van dwaalleëringe.

 b. Die mens word op gelyke vlak met die Skrif gestel.

Kyk ’n mens na die motiverings wat gegee is vir sekere besluite is dit duidelik watter rol die mens daarin speel. Jesus wat alleen die waarheid is word geminag. (Joh. 14:6)

Die opinies van mense word hiervolgens belangriker geag as die Skrif. ’n Goed gemotiveerde voorlegging van Wonderboom-Suid gemeente, waarin duidelik vanuit die Skrif en belydenisskrifte aangetoon word dat die duiwel ’n persoon  is (selfs in Jesus se eie woorde) word in die wind geslaan ter wille van sekere lidmate se sieninge.

Motivering vir Selfdegeslagverhoudinge 2015 by die AS: “Die homoseksuele oriëntasie van mense word volgens hierdie besluit nie langer as ʼn patologies afwykende seksuele oriëntasie beskou nie. Dit mag ook nie as grondige rede  aangevoer word om diesulkes uit die geloofsgemeenskap te weer en hulle die voorregte van lidmaatskap te ontsê nie.

Die sondige aard van die mens word misken en daar word geprobeer om hom van sy sonde vry te spreek.

Moedswillig word vergeet dat die hele mensdom in sonde geval het. Ons het almal ontaard. (Ps. 14). Watter mens is daar wat nie hartseer en pyn ervaar nie? Die argument kan nie gebruik word om die sonde van homoseksuele dade goed te praat nie!

Weereens word ’n besluit, nee, belangriker, ’n belydenis, aanvaar wat meer as een groep mense moet akkommodeer. Hoe kan sommige van ons iets bely en ander nie? Waar is die gesag van die kerk? Met hierdie motivering word duidelik erken dat die mens belangriker as die Skrif en die  belydenis is.

 c.  Die wetenskap van die dag word hoër geag as die Skrif

Die besondere openbaring van God, die Skrif, word in die wind geslaan met regte Bybelgimnastiek, om te probeer verklaar dat die ou tyd anders as vandag is. Die mens in sy wese het van Adam se sondeval tot vandag toe niks verander nie.  Die moord van Kain is niks anders as ‘n moord vandag nie. Netso is al die ander sondes, ook homoseksuele dade, steeds vandag nog sonde net soos in Lot en Paulus se tyd.  Die hele Romeine 1 se doel is om te toon dat God deur sy algemene openbaring bewys dat God God is. Die algemene openbaring bevestig net die spesifieke openbaring soos in die Skrif vir ons gegee is. Dit is ongehoord dat die skepsel sy wetenskaplike bevindinge probeer gebruik om God, die Skepper, se wil en wet te probeer verander.

d.  Gevolgtrekking: Met die Skrif wat "te moeilik" is om te verstaan, met die Skrifgesag wat gelykgestel word met die siening van die mens en die wetenskap van die dag is dit duidelik dat die kerkorde van 2013 (en vroeër) reeds in homself die kiem van die dwaalleëringe gedra het.  Die punte soos aangehaal is oop vir verkeerde interpretasies en daarom het die Algemene Sinode in die strikke van dwaalleëringe getrap.

 4.  Vrug van die huidige Skrifbeskouing van die Algemene Sinode

a. Die gesag van die Skrif word uitgedaag en daarmee word God self uitgedaag. Dis niks anders as stakende werkers en - studente wat die gesag van die staat uitdaag en alles wat voorkom verbrand, vernietig en selfs moor nie. Netso sal die samelewing ook vernietig en vermoor word. Wat was o.a. die vrug van hierdie Skrifbeskouing net die afgelope paar jaar?

b.  Sou hierdie tendens nie gekeer word nie – wat sal die toekomstige vrug vir die NG kerk wees?  (Ds Etienne Nolte aan die moderamen: Die geestelike implikasies van die SGV besluit. (www.hierstaanek.com  November 2015))

 5.  Wat staan ons te doen?

a.  Stel die besluite en dwaalleringe van die Algemene Sinode reg

b. Wis die dwaalleer in ons kweekskole uit.

 Die groot probleem lê by ons teologiese fakulteite en wat daar geleer word. Nie een dosent van enige van ons fakulteite het sover ek weet hom teen hierdie besluit uitgespreek nie. En dis hierdie manne wat die nuwe geslag predikante vorm! As daar nie ‘n nuwe alternatief vir die huidige stelsel van teologiese opleiding gevind word nie, sal dinge al donkerder word.” (Ds. Johannes de Koning http://skattegemynuitgodsewoordintsumeb.blogspot.co.za/2015/11/daars-hoop.html )  Bring die doserende personeel weer onder die opsig en tug van die kerk. Ons kan nie ons aspirant leraars  blootstel aan die verkeerde leëringe nie. Laat ons Jesus se waarskuwing ernstig opneem: “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle trek oor see en land rond om een bekeerling te maak, en as hy dit word, maak julle hom twee maal so ryp vir die hel as wat julle self is.” (Matt. 23:15)

c. Sou die bg. sake nie reg gestel kan word nie hoop ek nie dat die volgende waar sou word nie: 

Sout is 'n goeie ding. Maar as sout verslaan het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit is nie eers bruikbaar vir die grond of vir die mishoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, moet luister!” (Luk. 14:34,35) ’n Moontlikheid waaraan nie een van ons wil dink nie maar ’n werklikheid wat ons nie durf ignoreer nie!

Aanhangsel

Skrifinterpretasie: Motivering

1.  Om die Skrif te verstaan moet ons dit lees deur die oë van die skrywer.

Galileo (1564 - 1642) kan beskou word as die vader van die eksperimentele wetenskap. Hy het hom die gramskap van die Katolieke kerk op die hals gehaal deur bewyse van observasies na vore te bring wat Copernicus se heliosentriese teorie ondersteun het. Wat die kerk die meeste gegrief het is dat Galileo, as 'n leek op die kerklike terrein, gedurf het om die kerklike leer in twyfel te trek. Galileo het geglo dat dat die Bybel korrek en waar is. Sy kritiek was gerig op die manier waarop die kerk die Bybel geïnterpreteer het. Galileo stel sy standpunt rondom die verklaring van die Bybel soos volg: "Die heilige Skrif kan nie fouteer en die bepalings daarin vervat is absoluut waar en onverbreekbaar. Maar ... sy uitleggers en verklaarders is skuldig om in vele opsigte te fouteer; en een fout wat in die besonder gevaarlik sou wees, en wat dan ook gereeld sou voorkom, is as ons kort duskant die letterlike betekenis van die woorde sou stop." (Ross, 1989 : 20) Galileo het dit benadruk dat dit essensieel is dat die verwysingsraamwerk vir enige wetenskaplike ekperiment of eksegese van enige gedeelte eers bepaal moet word voordat enige interpretasies gedoen kan word. Om dit met ander woorde te sê: As ons die Bybel wil interpreteer moet ons dit doen deur die oë van die skrywer. Wat was sy konteks, mileu en omstandighede?

2.  Die Bybel is nie ’n geskiendenis – of wetenskap handboek nie. Maar tog bevat dit ook nie historiese foute nie:

Geen skrywer met integriteit sal stories opmaak of name en plekke verdraai nie. Diegene wat beweer dat die Bybel vol historiese foute en onbetroubaar is, het geen bewyse vir hul aantygings nie. (MJ Maree http://www.mjm.co.za/Geleenthede/Bybel/Ek%20glo%20Here.pdf)

Inteendeel, argeologiese data bewys keer op keer dat die Bybelse konteks en gebeure waar is.

3.  Die mens het in sy wese en aard van Adam se sondeval tot vandag toe niks verander nie.

Kain se moord op sy broer is niks anders as die moorde vandag nie. Die mensdom is, ten spyte van sy tegnologiese vordering, geensins vandag beter daaraan toe nie. David Berlinski in sy boek “The devil’s delution” 2009, toon dat van die eerste wêreldoorlog, 1914 tot en met Somalië se onluste in die 1990’s daar meer as 190 miljoen mense geweldadadig gesterf het. En dit net in die laaste eeu! Geen regdenkende mens kan dit as ’n ontwikkelde en gelukkige mensdom beskryf nie! Ongelukkig geld dieselfde vir die ander sondes van die mens. Huweliksontrou bly ontrouheid, sodomie bly sodomie en homoseksuele dade is steeds wat dit is.

4. Die beginsels in die Skrif neergelê is ewig en onveranderbaar.

Die lewensbeginsels in die Skrif geld vandag nog. Ja, die konteks het verander maar die beginsel het nie. “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.” (Matt. 5:17,18)

5.      Die Skrif is ten volle betroubaar

Die Skrif is ten volle betroubaar en ek as mens kan op grond daarvan ’n rasionele besluit neem om vir Christus te volg. (www.mjm.co.za )  Ons weet egter ook uit die Skrif dat ek as mens net geneig is om “God en my naaste te haat” (HK Sondag 2 Vraag 5). Ons menslike natuur self is dus die struikelpblok om so ’n rasionele besluit te neem. Dit is nie die Skrif se skuld dat die mens nie in God wil glo nie.

'n Gewone lidmaat.

Thys Maree (MJ)